Robert Broom

Robert Broom
Gebore 30 November 1866
Paisley, Skotland
Oorlede 6 April 1951 (op 84)
Nasionaliteit Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
Vakgebied Geneeskunde, paleontologie
Alma mater Universiteit van Glasgow
Toekennings Koninklike Medalje (1928)
Daniel Giraud Elliot-medalje (1946)
Wollaston-medalje (1949)

Dr. Robert Broom (30 November 1866, Paisley6 April 1951) was 'n Suid-Afrikaanse wetenskaplike, dokter en paleontoloog. Sy werk op vroeë soogdieragtige reptiele en hul plek in die evolusionêre ontwikkeling het aan hom internasionale erkenning besorg. Hy het selfs meer bekend geword vir sy ontdekkings van die eerste stewige australopithesene aapmens-skedel in 1938 in die grot by Kromdraai, 1,6 km vanaf Sterkfontein, en in 1947 vir die 2,5 miljoen jaar-oue Mev. Ples.[1]

Toe Raymond Dart in 1925 besef het dat die Taung-skedel kenmerke vertoon wat tussen dié van mense en ape was, en dus gewys het dat dit 'n vroeë hominide was, het argeologiese instellings sy bewerings geminag. Broom, wat die eerste besoeker was wat die skedel gesien het, het egter 'n stoere ondersteuner van Dart geword en gehelp om sy teorie van Afrika as die bakermat van die mensdom te bewys deur sy ontdekking van 'n aantal australopithesene oorblyfsels.

Hy is in 1920 'n genoot van die Royal Society van Londen gemaak, het 'n Royal Medalje (1928) ontvang, asook verskeie eredoktorate van oorsese en Suid-Afrikaanse universiteite. Hy was die ontvanger van medaljes van die Nasionale Akademie van Wetenskappe van Washington en die Geologiese Vereniging van Londen. Die Unieregering het 'n bronsborsbeeld in die ingang van die Transvaal Museum opgerig wat op 31 Oktober 1949 deur genl. Jan Smuts in sy teenwoordigheid onthul is.

Presies 100 jaar na sy geboorte is die Robert Broom Museum by Sterkfontein geopen. By die ingang van die Sterkfontein-grotte staan 'n borsbeeld van Broom met 'n replika van die sogenaamde mev. Ples, die amper perfek behoude volwasse Australopithecus africanus-skedel, wat hy in 1947 by Sterkfontein gekry het.

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8

Developed by StudentB