Romulus en Remus was in die Romeinse mitologie tweelingbroers wie se mite die verhaal vertel van gebeure wat tot die stigting van Rome en van die Romeinse Koninkryk deur Romulus gelei het. Die moord op Remus deur sy broer en ander dele van die verhaal het kunstenaars deur die eeue geïnspireer.
Sedert antieke tye is die tweeling wat aan ’n wolf drink, die simbool van die stad Rome en die Romeinse volk. Hoewel die verhaal voor die stigting van Rome omstreeks 750 v.C. afspeel, is die eerste geskrewe weergawe van die mite sover bekend uit die laat 3de eeu v.C. Daar word steeds gedabatteer oor of die mite ’n oorspronklike deel van die Romeinse mitologie of ’n latere toevoeging is.