Rooiwyn is wyn wat - in teenstelling met witwyn - van blou of rooi druiwe gemaak word. Ook die produksiemetode verskil van dié van witwyn.
Rooiwyn word verkry deur die druiwe op die beslag sowat 2 tot 30 dae te laat gis. Hierby word die kleurstowwe in die skille (die sogenaamde anthosiane) in die alkohol opgelos. Daar is ook druiwesoorte wat die noodsaaklike kleurstowwe reeds in hulle sap bevat, byvoorbeeld die Dornfelder- of Dunkelfelder-druiwe. Hierdie soorte word dikwels vir versnitte (cuvées) gebruik.
Frankryk is tans die belangrikste wynbouland vir rooiwyn. Sy fyn, aromatiese rooiwyne is baie gewild op die internasionale markte. Ander lande, wat rooiwyne van hoë gehalte produseer, is Spanje, Italië, die VSA, Suid-Afrika, Australië, Chili en Argentinië. Veral in lande soos die VSA, Suid-Afrika en Australië word vrugtige soorte rooiwyn verbou, wat dikwels in spesiale houtvate (barriques) afgerond word.
Met die vordering op die gebied van wynbou kan ook die rooiwyne van die noordelike wynlande, soos Duitsland, in toenemende mate op die markte meeding. Duitsland produseer vandag Spätburgunder- en Dornfelderwyne van uitstekende gehalte.
Klimaattoestande, die kwaliteit van die grond en die spesifieke produksiemetodes lewer honderde soorte rooiwyne op, wat ten opsigte van hulle geur, kleur en smaak beduidend van mekaar verskil. Sommige rooiwyne word van 'n enkele druiwesoort gemaak, terwyl ander wyne van gehalte as versnitte bemark word. Laasgenoemdes kan eweneens van eersterangse gehalte wees.