Ruimteverkenning

Buzz Aldrin op die Maan ná die maanlanding tydens die Apollo 11-ruimtevlug, afgeneem deur Neil Armstrong.

Ruimteverkenning is die ontdekking en verkenning van hemelliggame in die ruimte deur middel van al hoe beter ruimtetegnologie. Terwyl die bestudering van die ruimte hoofsaaklik deur sterrekundiges met teleskope plaasvind, geskied die fisieke verkenning van die ruimte deur onbemande robottuie en bemande vlugte.

Die waarneming van voorwerpe in die ruimte, wat sterrekunde genoem word, is ouer as die betroubare opgetekende geskiedenis, maar dit was die ontwikkeling van groot en relatief doeltreffende vuurpyle in die middel 20ste eeu wat die fisieke verkenning van die ruimte ’n werklikheid laat word het. Algemene beweegredes daarvoor sluit in gevorderde wetenskaplike navorsing, nasionale prestige, kommersiële benutting, die vereniging van verskillende nasies, die versekering van die toekomstige oorlewing van die mensdom en die ontwikkeling van militêre en strategiese voordele bo ander lande.[1]

In die tyd van die Koue Oorlog was daar ’n ruimtewedloop tussen die VSA en die Sowjetunie. Die lansering van die eerste mensgemaakte voorwerp in ’n wentelbaan om die Aarde, die Sowjetse Spoetnik 1 op 4 Oktober 1957, en die eerste maanlanding deur die Amerikaanse Apollo 11-sending op 20 Julie 1969 word dikwels beskou as mylpale in dié tyd. Die Sowjetunie het baie van die eerste prestasies behaal, soos die eerste lewende wese in ’n wentelbaan (die hond Laika) in 1957, die eerste mens in die ruimte (Joeri Gagarin aan boord van Wostok 1) in 1961, die eerste wandeling in die ruimte (deur Aleksei Leonof) op 18 Maart 1965, die eerste outomatiese landing op ’n ander hemelliggaam (Loena 9) in 1966 en die lansering van die eerste ruimtestasie (Saljoet 1) in 1971.

Ná die eerste 20 jaar van verkennings, het die fokus verskuif van enkelvlugte na herbruikbare tuie soos die Ruimtependeltuig, en van mededinging na samewerking soos met die Internasionale Ruimtestasie (IRS).

Met die wesentlike voltooiing van die IRS[2] in 2011 is die VSA se planne vir ruimteverkenning vloeibaar. In 2009 is bevind die Constellation-program van die Bush-administrasie, vir die terugkeer na die Maan teen 2020,[3] is onderbefonds.[4] In 2010 het die Obama-administrasie ’n omvattende hersiening van Constellation voorgestel.[5]

In die 2000's het China ’n suksesvolle program vir bemande ruimtetuie begin, terwyl die Europese Unie, Japan en Indië ook bemande vlugte beplan. China, Rusland, Japan en Indië het beplande sendings na die Maan in die 21ste eeu verkondig, en die Europese Unie het bemande besoeke aan die Maan en Mars in die 20ste en 21ste eeu verkondig.

Van die 1990's af het privaat maatskappye onder meer ruimtetoerisme begin bevorder.

  1. Roston, Michael (28 Augustus 2015). "NASA's Next Horizon in Space". New York Times (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Mei 2020. Besoek op 28 Augustus 2015.
  2. Chow, Denise (9 Maart 2011). "After 13 Years, International Space Station Has All Its NASA Rooms" (in Engels). Space.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Februarie 2020.
  3. Connolly, John F. (Oktober 2006). "Constellation Program Overview" (PDF). Constellation Program Office. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 10 Julie 2007. Besoek op 6 Julie 2009.
  4. Lawler, Andrew (22 Oktober 2009). "No to NASA: Augustine Commission Wants to More Boldly Go" (in Engels). Science. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Mei 2013.
  5. "President Outlines Exploration Goals, Promise". Address at KSC (in Engels). 15 April 2010. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Augustus 2019.

Developed by StudentB