Seisoen

Rooi en groen blare in die lente.
’n Bladwisselende boom in die winter.

’n Seisoen is ’n deel van die jaar wat gekenmerk word deur veranderings in die weer, ekologie en dagligure. Seisoene kom voor vanweë die jaarlikse wenteling van die Aarde om die Son en die helling van die Aarde se rotasie-as met betrekking tot die wentelvlak.[1][2] In gematigde en poolstreke word die siesoene gekenmerk deur veranderings in die intensiteit van sonlig wat die Aarde se oppervlak bereik; dit kan meebring dat diere hiberneer of migreer en plante ’n rustyd binnegaan.

In November, Desember en Januarie kry die Suidelike Halfrond meer sonlig omdat dit na die Son gedraai is. Dieselfde geld vir Mei, Junie en Julie in die Noordelike Halfrond. Dit is die Aarde se ashelling wat meebring dat die Son in die somer hoër in die lug is en die stralingsenergie hoër is. Vanweë seisoenale agterstand is Desember, Januarie en Februarie egter die warmste maande in die suide en Junie, Julie en Augustus in die noorde.

In gematigde en poolstreke word vier kalendergebaseerde seisoene gewoonlik erken: lente, somer, herfs en winter. Ekoloë gebruik soms ’n model met ses seisoene vir gematigde streke wat "voorlente" en "laatsomer" insluit.

Die ses ekologiese seisoene.

Warm streke het twee of drie seisoene: ’n nat, droë en in sommige tropiese streke ’n koel of gematigde seisoen.

Seisoene hou soms besondere betekenisse in vir landbougemeenskappe, wie se lewe in ’n groot mate draai rondom die plant- en oestyd. Vroeër is dit dikwels met rituele gevier.

  1. Khavrus, V.; Shelevytsky, I. (2010). "Introduction to solar motion geometry on the basis of a simple model". Physics Education. 45 (6): 641–653. Bibcode:2010PhyEd..45..641K. doi:10.1088/0031-9120/45/6/010. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 September 2016. Besoek op 9 Julie 2016.
  2. Khavrus, V.; apple, I. (2012). "Geometry and the physics of seasons". Physics Education. 47 (6): 680–692. doi:10.1088/0031-9120/47/6/680.

Developed by StudentB