Seksuele seleksie is ’n vorm van natuurlike seleksie waarin sommige individue meer nasate as ander het in ’n bevolking omdat hulle meer geslaagd is in die vind van maats.[1][2] Charles Darwin het seksuele seleksie in 1858 beskyf as ’n belangrike proses in die evolusie van spesies en ’n vername element in sy teorie van natuurlike seleksie,[3] maar dié konsep het eers ’n naam gekry in sy 1859-boek On the Origin of Species.
As voorbeelde van seksuele seleksie het hy die vere van poue en paradysvoëls, die horings van takbokke en die maanhare van leeus gebruik.
Darwin se daaropvolgende boek uit 1871, The Descent of Man and Selection in Relation to Sex, was ’n werk in twee volumes waarin hy 70 bladsye afstaan aan seksuele seleksie in die menslike evolusie en 500 bladsye aan seksuele seleksie in ander diere.[4] Opsommend: terwyl natuurlike seleksie ’n gevolg is van die stryd om te oorleef, is seksuele seleksie vanweë die stryd om voort te plant.
Die seksuele stryd is tweeledig; in die een is dit tussen individue van dieselfde geslag, gewoonlik die mannetjies, om hul mededingers te verdryf of dood te maak, terwyl die wyfies passief bly; in die ander is die stryd ook tussen individue van dieselfde geslag om dié van die teenoorgestelde geslag, gewoonlik die wyfies, te prikkel en te bekoor; laasgenoemde bly nie meer passief nie, maar kies die mees geskikte maat.[5] |