In meteorologie is 'n sikloon of werwelstorm 'n groot lugmassa wat om 'n sterk kern van lae atmosferiese druk in die rondte draai. Soos van bo af gesien, draai dit in die Suidelike Halfrond kloksgewys (regsom) en in die Noordelike Halfrond antikloksgewys (linksom), die teenoorgestelde as 'n antisikloon.[1][2] Siklone word deur winde gekenmerk wat om 'n laagdruksone na binne spiraal.[3][4]
Die grootste laagdrukstelsels is poolwerwels en ekstratropiese siklone van die grootste skaal (die sinoptiese skaal). Warmkernsiklone soos tropiese en subtropiese siklone val ook binne die sinoptiese skaal.[5] Mesosiklone, tornado's en stofwarrels lê binne die kleiner mesoskaal.[6]
Siklone is ook al waargeneem op ander planete, soos Mars, Jupiter en Neptunus.[7][8] Siklogenese is die proses waarvolgens siklone vorm en in intensiteit toeneem.[9]
Weerfronte merk die grens tussen twee massas lug met verskillende temperature, humiditeite en digthede, en word verbind met die prominentste meteorologiese verskynsels. Sterk kouefronte het gewoonlik nou bande van donderstorms en strawwe weer, en kan soms voorafgegaan word deur buielyne of droë lyne. Sulke fronte vorm wes van die sirkulasiekern en beweeg gewoonlik van wes na oos; warmfronte vorm oos van die sikloonkern en word gewoonlik voorafgegaan deur gestratifiseerde reën en mis. Warmfronte beweeg poolwaarts voor die pad van die sikloon uit. Geokkludeerde fronte vorm laat in die sikloon se lewensiklus naby die kern en omhul dikwels die kern.
In die Atlantiese Oseaan en die oostelike Stille Oseaan (waaronder die Hawaise eilande) word daar na siklone verwys as orkane; in die westelike Stille Oseaan staan hulle bekende as tifone en in die suidelike Stille Oseaan en in die Indiese Oseaan as siklone.[3][4] Laasgenoemde, die generiese term, dek 'n wye verskeidenheid meteorologiese verskynsels, waaronder tropiese siklone, ekstratropiese siklone en tornado's. Dus gebruik weerkundiges "sikloon" selde sonder om dit te spesifiseer.