Die sin van die lewe is 'n filosofiese vraagstuk wat hom met die doel en intrinsieke waarde van die menslike bestaan, of biologiese lewe oor die algemeen, bemoei. Hierdie konsep kan deur 'n verskeidenheid vrae gestel word, soos Waarom is ons hier?, Waaroor gaan die lewe?, en Wat beteken dit alles? Dit was in die opgetekende geskiedenis van die mensdom deurgaans 'n punt vir filosofiese, wetenskaplike en teologiese bespiegeling. Daar is 'n groot aantal antwoorde vanuit verskillende kulturele en ideologiese agtergronde tot hierdie vrae gebied. Die Franse eksistensialis Albert Camus het opgemerk: "Ons mense is skepsels wat ons lewens deurbring deur onsself te oortuig dat ons bestaan nie absurd is nie."[1]
Die sin van die lewe is diep verstrengel met die filosofiese en religieuse konsepte van bestaan, bewussyn en geluk, en raak aan baie ander kwessies, soos simboliese betekenis, ontologie, waarde, doel, etiek, goed en kwaad, vrye wil, sienings van God, die bestaan van God, die siel, en die hiernamaals. Wetenskaplike bydraes is meer indirek; deur die empiriese feite oor die heelal te beskryf, verskaf wetenskap ietwat konteks en stel dit parameters waarbinne gesprekke oor verwante onderwerpe gevoer word. 'n Alternatiewe, mens-sentriese, en nie 'n kosmiese of religieuse benadering nie, is die vraag "Wat is die doel van my lewe?" Die waarde van die vraag rakende die doel van die lewe kan as saamvallend met die bereiking van uiteindelike werklikheid beskou word, indien 'n persoon glo dat laasgenoemde bestaan.