’n Sinaps is in die senuweestelsel ’n struktuur wat neurone (of senuselle) toelaat om elektriese of chemiese seine aan ander neurone oor te dra, en volgens sommige skrywers ook aan nieneuronselle soos dié in die spiere en kliere.[1]
Sinapse (ten minste chemiese sinapse) word in hul posisies gestabiliseer deur sinaptiese hegmolekules (SAM's) wat uit beide die pre- en postsinaptiese neuron (seinsturende en teikenneuron) steek en aan mekaar vassit waar hulle oorvleuel; SAM's kan ook help met die generering en werking van sinapse.[2]
Die woord "sinaps" kom van die Griekse woorde syn- ("saam") en haptein ("vasmaak").[3][4]
Sinapse is noodsaaklik vir neuronale werking: Neurone is selle wat gespesialiseer is om seine na individuele teikenselle te stuur, en hulle doen dit deur middel van sinapse. By ’n sinaps kom die plasmamembraan van die presinaptiese neuron naby die membraan van die postsinaptiese sel. Beide die presinaptiese en postsinaptiese streke bevat die molekulêre meganismes om die twee membrane te verbind om die seinproses uit te voer. In baie sinapse sit die presinaptiese deel aan die akson en die postsinaptiese deel aan ’n dendriet of selliggaam. Astrosiete ruil ook inligting uit met die sinaptiese neurone, reageer op sinaptiese aktiwiteit en reguleer senuoordrag.[5]