Siriese alfabet | ||||
Soort skryfstelsel | Abjad | |||
Tyd gebruik | 200 v.C. - hede | |||
Rigting | Regs na links | |||
Tale | Siries, Aramese dialekte | |||
Stelsels | ||||
Moederstelsels | ||||
Dogterstelsels | ||||
ISO 15924 | Syrc, 135 | |||
Unicode | Syriac, U+0700–U+074F | |||
Nota | ||||
Hierdie bladsy kan fonetiese IFA-simbole of letters uit ander alfabette bevat | ||||
|
Die Siriese alfabet is ’n skryfstelsel wat vanaf omstreeks die 2de eeu v.C. hoofsaaklik gebruik word om die taal Siries te skryf. Dit is een van die Semitiese abjads wat regstreeks van die Aramese alfabet afgelei is en toon dus ooreenkomste met die Fenisiese, Hebreeuse, Arabiese en die tradisionele Mongoolse alfabet.
Siries word van regs na links geskryf. Dit is ’n kursiewe skrif waarvan sommige letters in ’n woord, maar nie almal nie, verbind word. Dit bestaan uit 22 letters, wat almal konsonante is. Die klinkers word deur die leser ingesit of met diakritiese tekens aangedui.
Drie letters dien as aanduiders van klinkers: ’Ālaph (ܐ), die eerste letter, verteenwoordig ’n glottale sluitklank, maar ook ’n klinker aan die begin of einde van ’n woord. Die letter Waw (ܘ) is die konsonant "w", maar kan ook die klinkers "o" en "u" voorstel. Net so kan Yōdh (ܝ) die konsonant "y" of die klinkers "i" en "e" voorstel. Die letters het nes in Hebreeus en Grieks ook syferwaardes.