Skelet

Geraamtes van 'n man en perd.

Die skelet of geraamte (Grieks σκελετός, skeletos "verdroë liggaam") verwys na die harde struktuur wat ondersteuning, stewigheid aan die vorm van 'n organisme verskaf en wat die inwendige organe beskerm. In die geval van gewerweldes bestaan die skelet uit die inwendige stawe en plate wat meestal uit beenweefsel bestaan (die bene van visse word visgrate genoem) oftewel die endoskelet, terwyl die geleedpotiges 'n uitwendige- of eksoskelet het (bv. 'n insekdop). Die spiere is aan die skelet vasgeheg en maak die beweging van die ledemate moontlik. Plekke waar twee of meer bene aan mekaar raak maar ook onderling kan beweeg, word gewrigte genoem.

Die skelet sluit in alle harde strukture wat binne (endoskelet) of aan die buitekant (eksoskelet) van die liggaam lê. Die skelet dien as verstewiging en beskerming van die liggaam en verleen aanhegting vir die spiere. Die skelet is uit organiese stowwe soos kollageenvesels en/of anorganiese stowwe soos kalk opgebou.

Eksoskelette word by veral ongewerwelde diere aangetref (byvoorbeeld die chitienpantser van insekte, die skulp van weekdiere, ensovoorts). Werweldiere word gekenmerk deur 'n endoskelet (geraamte) van kraakbeen en been. As gevolg van die styfheid en onbuigbaarheid van 'n benige skelet is gewrigte nodig om beweging moontlik te maak.

Been dien ook as 'n minerale reserwe en in die rooi beenmurg word bloedselle vervaardig. Die algemene bouplan van die skelet is min of meer dieselfde by amfibieë, voëls en soogdiere en die name van die verskillende benige komponente (beendele) stem naastenby ooreen. Die skelet van die mens verskil van soogdierskelette ten opsigte van die groter skedel en die bou van die lyf (romp). By werweldiere is die eksoskelet as huidplate, kloue, ensovoorts, aanwesig.


Developed by StudentB