Die Skotse Hoogland (Skots-Gaelies: A' Ghàidhealtachd, Skots: Hielands, Engels: Scottish Highlands) sluit die ruwe en bergagtige dele van Skotland noord en wes van die Hooglandgrensbreuk in.[1] Veral in die ooste is die grens egter nie duidelik gedefinieer nie. Die Great Glen skei die Grampianberge in die suidooste van die Noordwes-Hoogland. Die Skotse Hoogland verteenwoordig die grootste deel van die Gàidhealtachd, die tradisionele gebied van die Skots-Gaeliese gemeenskap en dit is baie keer sinoniem daarmee.[2]Die Hoogland word baie keer beskryf as een van die mees skilderagtige streke van Europa.[verwysing benodig]
Die Skotse Hoogland is yl bevolk met talle bergreekse wat die gebied oorheers. Dit sluit die hoogste berg in die Britse Eilande, Ben Nevis, in. Voor die 19de eeu het die Hoogland 'n baie groter bevolking gehad wat as gevolg van 'n aantal redes drasties verminder het. Die redes sluit in 'n verbod op die tradisionele Hooglandlewenswyse na die Tweede Jakobitiese Opstand, die berugte Ontruiming van die Hoogland (Engels: Highland Clearances), en grootskaalse migrasie na stedelike gebiede tydens die Industriële Revolusie. Die gebied is vandag een van die yls bevolkste gebiede in Europa.
Die Highland Council is die administratiewe owerheid vir die grootste deel van die Skotse Hoogland en het sy administratiewe middelpunt in Inverness. Die Hoogland sluit egter ook dele van die Raadsgebiede van Aberdeenshire, Angus, Argyll en Bute, Moray, Perth en Kinross, en Stirling in. Hoewel die Isle of Arran administratiefgewys tot Noord-Ayrshire behoort word die noordelike gedeelte algemeen as deel van die Hoogland gesien.[verwysing benodig]