Slag van Hastings

Harold Rex Interfectus Est: "Koning Harold is vermoor". Toneel uit die Tapyt van Bayeux wat die Slag van Hastings en die dood van Harold uitbeeld.

Die Slag van Hastings het op 14 Oktober 1066 plaasgevind tussen die Normandies-Franse leër van Willem, die Hertog van Normandië en die Engelse leër onder leiding van die Angel-Saksiese koning, Harold Godwinson. Daarmee het die Normandiese oorname van Engeland begin. Die slag het sowat 11 km noordwes van die dorp Hastings plaasgevind. Dit is naby die huidige dorp Battle in Oos-Sussex. Die geveg het met ’n oortuigende oorwinning vir die Normandiërs geëindig.

Die agtergrond van die geveg was die dood van die kinderlose koning Eduard die Belyer in Januarie 1066, wat 'n opvolgingstryd tussen verskeie aanspraakmakers op sy troon tot gevolg gehad het. Harold Godwinson is kort na Eduard se dood tot koning gekroon, maar hy moes invalle deur Willem, sy eie broer Tostig Godwinson en die Noorse koning Harald Hardrada (Harold III van Noorweë) trotseer. Hardrada en Tostig verslaan 'n haastig versamelde Engelse leër tydens die Slag van Fulford op 20 September 1066 en word op hul beurt vyf dae later deur Harold verslaan in die Slag van Stamford Bridge. Die dood van Tostig en Hardrada op Stamford Bridge het Willem as die enigste ernstige teenstander van Harold gelaat. Terwyl Harold en sy troepe besig was om te herstel, het Willem sy invalsmag in die suide van Engeland op 28 September 1066 in Pevensey geland en 'n steunpunt gevestig vir sy verowering van die koninkryk. Harold moes noodgedwonge vinnig suidwaarts opruk, terwyl hy magte bymekaargemaak het soos hy beweeg het.

Die presiese getalle wat tydens die geveg teenwoordig was, is onbekend, want selfs moderne beramings wissel aansienlik. Die samestelling van die magte is duideliker; die Engelse leër was bykans geheel en al uit infanterie saamgestel en het min boogskutters gehad, terwyl slegs die helfte van die invallende mag infanterie was, en die res gelykop tussen berede en boogskutters verdeel het. Dit lyk asof Harold Willem probeer verras het, maar verkenners het sy leër gevind en hul aankoms gerapporteer aan Willem, wat van Hastings na die slagveld opgeruk het om Harold te konfronteer. Die geveg het van ongeveer 09:00 tot skemer geduur. Die vroeëre pogings van die indringers om die Engelse gevegslinies te breek, het min effek gehad; daarom het die Normandiërs die taktiek aangeneem om voor te gee dat hulle in paniek vlug en dan teen hul agtervolgers te draai. Harold se dood, waarskynlik naby die einde van die geveg, het gelei tot die terugtrekking en die nederlaag van die grootste deel van sy leër. Na verdere marse en enkele skermutselings word Willem op Kersdag 1066 as koning gekroon.

Daar was steeds rebellies en weerstand teen Willem se bewind, maar Hastings was die hoogtepunt van Willem se verowering van Engeland. Dit is moeilik om syfers oor ongevalle te bekom, maar sommige historici skat dat 2 000 invallers gesterf het, saam met ongeveer twee keer soveel Engelse. William het 'n klooster gestig op die plek van die geveg, die hoë altaar van die abdykerk wat vermoedelik geplaas is op die plek waar Harold gesterf het.


Developed by StudentB