Sleutel (musiek)

Diskant- en bassleutel getoon met die name van die note.

’n Sleutel is ’n musieksimbool wat gebruik word om die toonhoogte van geskrewe note aan te dui.[1] Dit word op een van die lyne van aan die begin van die balk geplaas en bepaal die naam en toonhoogte van die note op daardie lyn. Hierdie lyn is die verwysingspunt waarvolgens die naam van ’n noot op enige ander lyn of spasie van die balk bepaal kan word. Net een sleutel wat na ’n noot in ’n spasie verwys eerder as op ’n lyn is nog ooit gebruik.

Daar is drie soorte sleutels wat in moderne musieknotasie gebruik word: F, C en G. Elke soort sleutel ken ’n ander verwysingsnoot aan die lyn toe (en in seldsame gevalle, die spasie) waar dit geplaas is. (G- en F-sleutels word in die oorgrote meerderheid van moderne musiek onderskeidelik as diskant- en bassleutels gebruik.)

Sleutel Naam Noot Lyn
G-sleutel / Diskantsleutel G4 loop deur die krul van die sleutel.
C-sleutel Middel-C (C4) loop deur die middel van die sleutel.
F-sleutel / Bassleutel F3 loop tussen die twee kolletjies van die sleutel.

Sodra een van hierdie sleutels op een van die lyne van die notebalk geplaas word, kan die ander lyne en spasies in verhouding daartoe gelees word.

Die gebruik van drie verskillende sleutels maak dit moontlik om musiek vir alle instrumente en stemme te skryf, al het hulle baie verskillende tessiture (dit wil sê, al klink sommige veel hoër of laer as die ander). Dit sou moeilik wees om dit met net een sleutel te doen, aangesien die moderne notebalk net vyf lyne het, en die aantal plekke wat op die notebalk verteenwoordig kan word, selfs met hulplyne, nie naastenby gelyk is aan die aantal note wat die orkes kan speel nie. Die gebruik van verskillende sleutels vir verskeie instrumente en stemme maak dit moontlik dat elke party gemaklik op die notebalk geskryf kan word met 'n minimum van hulplyne. Om hierdie rede word die G-sleutel gebruik vir die hoë partye, die C-sleutel vir die middel-dele en die F-sleutel vir die lae dele—met die noemenswaardige uitsondering van transponerende partye, wat geskryf word op toonhoogte wat verskil van hulle klank, dikwels selfs in ’n ander oktaaf.

  1. Streng gesproke dui die sleutel nie die 'toonhoogte' van die note aan nie, maar hulle 'name'; die eintlike toonhoogte kan wissel na gelang van die stemmingstelsel of die standaard wat gebruik word.

Developed by StudentB