Die smeltingswarmte (ook latente smeltingswarmte genoem) is die hoeveelheid warmte-energie wat 'n materiaal moet absorbeer om 'n bepaalde hoeveelheid massa van die stof van 'n vastestof tot 'n vloeistof en omgekeerd te verander. Die temperatuur waarteen hierdie omskakeling van toestand plaasvind word die smeltpunt genoem. Die warmte-energie wat afgegee word om die teenoorgestelde toestandsverandering te bewerkstellig is gewoonlik ewe veel en daar kan daarna verwys word as die stollingswarmte.
Wanneer 'n mens termiese energie van 'n vloeistof of 'n vastestof onttrek, val die temperatuur. Wanneer warmte-energie bygevoeg word styg die temperatuur. Wanneer die oorgangspunt tussen die vastestof- en vloeistoffases egter bereik word (die smeltpunt), bly die temperatuur vir 'n suiwer stof konstant met verdere toevoeging of onttrekking van energie totdat die toestandverandering voltooi is, voordat daar weer 'n verdere styging of daling respektiewelik in die temperatuur sal plaasvind. Dit is dan ook die rede waarom daar na die latente smeltingswarmte verwys word, aangesien die addisionele toegevoegde energie se impak "weggesteek" is in soverre dit die temperatuur betref. Om van 'n vloeistof- na 'n vastestoftoestand te verander moet die molekules van die stof meer georden raak en moet addisionele hitte verwyder word. In die teenoorgestelde rigting moet daar 'n groter wanorde tussen die molekules wees en moet hitte bygevoeg word.
Die eenhede waarin smeltingswarmte gewoonlik uitgedruk word is:
of
of