Die soefisme is 'n mistiese leer in die Islam en geestelike oorsprong van die Derwisj-ordes, wat in die agtste eeu na Christus onder die invloed van Oosterse Christelike monnike en eremiete in Sirië, Irak en Saoedi-Arabië ontstaan. Behalwe die asketiese grondslag is daar geen Christelike invloed nie, en die aanhangers voer nie 'n lewe in eensaamheid nie, maar gaan voort om te trou en kinders te hê. Hulle stig broederskappe in groot Islamitiese stede en kom bymekaar om die koran te studeer en die skrif volgens mistieke beginsels uit te lê.
Die term soefisme word deur die Duitse geleerde August Thöluck ingevoer en is afgelei van die Arabiese sûfi wat "in wolstof geklee" (dus asketies) beteken. 'n Ander gebruiklike Arabiese benaming is tasawwoef of "onmiddellike mistieke waarneming van die werklikheid".
In die mistieke tradisie van die soefisme word alle godsdienste as verskillende uitdrukkings van dieselfde alomvattende waarheid beskou. Aanhangers streef daarna om deur middel van studies, meditasie, kontemplasie, askese, asemoefeninge, innerlike selfbeskouing, drome en visies 'n hoër peil van bewussyn te bereik.