Deus Sol Invictus (die onoorwonne songod) was 'n belangrike songod wat in die tydperk van die Romeinse Keiserryk die grootste mededinger van die Christendom was, toe die Mithras-kultus reeds in betekenis verminder het.[1]
Die verering van die songod in Rome was baie oud. Marcus Terentius Varro (116 - ong. 26 v.C.) het reeds geskryf dat die boere naas Jupiter en Tellus veral Sol en Luna (die son en die maan) vereer het. [1] Maar hierdie verering was deel van die politeïsme van die Romeinse religie. Die later kultus van Sol Invictus was egter essensieel monoteïsties en talle ouer gode soos Jupiter, Mithras en Serapis is gesien as sinonieme vir die een god Sol. Sy groot bekendheid het begin in die tyd van die keiser Elagabalus wat priester van die Siriese songod Elagab was en sy kultus in Rome ingevoer het, maar die groot bloeityd het later gekom onder die bewind van Aurelianus wat dit in die tradisionele kultuur van die stad ingepas het. Aurelianus het in 274 die verering van Sol Invictus tot staatsgodsdiens verhef. In sy tyd het dit 'n uitdrukking van Romanitas, die Romeinse nasionale konserwatisme geword. [1]
Die belangrikste feesdag vir Sol Invictus was 25 Desember: Dies Natalis Solis Invicti. Hierdie feesdag is deur Aurelianus ingestel en is nog tot 390 gevier tot Theodosius die Christendom die enigste godsdiens gemaak het. Die naam Sondag vir die eerste dag van die week kom dalk ook hiervan.[2] Die christendom van die tyd voor Konstantyn die Grote probeer soms om die ikonografie van Sol Invictus te assimileer deur Jesus nes Sol voor te stel met strale wat van sy kop skyn in 'n biga ('n strydwa met twee perde) wat hoog in 'n geel hemel voortbeweeg. [3]