Solon | |
---|---|
Borsbeeld getiteld 'Solon' in die Nasionale Museum, Napels | |
Gebore | Solón, Σόλων ca. 638 v.C. |
Sterf | ca. 558 v.C. waarskynlik Siprus |
Nasionaliteit | Antieke Griekeland |
Beroep | Handelaar, wetgewer, digter |
Solon (Grieks: Σόλων, c. 638 v.C.–558 v.C.) was 'n Atheense staatsman, wetgewer en digter. Hy word veral onthou vir sy voorgestelde wetgewing teen politiese, ekonomiese en morele verval in argaïese Athene. Sy hervormings was oor die korttermyn nie geslaagd nie, tog word die grondlegging van die Atheense demokrasie dikwels aan hom toegeskryf.[1][2][3][4]
Kennis van Solon word beperk deur die gebrek aan dokumentêre en argeologiese getuienis betrefffende Athene in die vroeë 6de eeu v.C..[5][6] Hy het vir plesier gedig, as patriotiese propaganda, en ter verdediging van sy grondwetlike hervormings. Sy werke oorleef slegs in fragmente, en blyk interpolasies van latere outeurs in te sluit. Dit is verder moontlik dat fragmente verkeerdelik aan hom toegeskryf word (sien Solon die hervormer en digter). Antieke outeurs soos Herodotos en Plutarchus is die vernaamste bronne van inligting, alhoewel hulle eeue na sy afsterwe oor Solon geskryf het — terwyl geskiedenis op hierdie tydstippe geensins 'n akademiese dissipline was nie (sien byvoorbeeld Anekdotes). Vierde-eeuse redenaars, soos Aischines, het geneig om aan Solon al hul eietydse, alhoewel veel latere, wette toe te dig.[7] Argeologie onthul 'n skemering van Solon se era in die vorm van fragmentariese inskripsies, maar weinig verder. Vir sekere geleerdes bestaan ons 'kennis' van Solon en sy tye grootliks uit 'n fiktiewe konstruksie, gebaseer op onvoldoende getuienis[8][9] terwyl ander vertrou dat daar oor 'n substansieële liggaam van werklike kennis beskik word.[10] Solon en sy tye hou dan 'n besondere uitdaging in vir geskiedenisstudente as 'n toets van die beperkings en aard van historiese argumentering.[11]