Soogdier

Soogdiere
Tydperk: 167–0 m. jaar gelede
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Mammalia

Linnaeus, 1758
Dolfyne, soos dié in die Stille Oseaan, is soogdiere.

Soogdiere is enige van 'n verskeidenheid warmbloedige vertebratadiere van die klas Mammalia, insluitend mense.

Vandag is daar ongeveer 5 000 spesies wat tot 26 ordes behoort.[1]

Alle huidige soogdiere word deur ses eienskappe gekenmerk:

  1. hulle het ore wat drie klein beentjies bevat
  2. die onderkaak bestaan net uit een been
  3. hulle het melkkliere en die kleintjies word met moedersmelk gevoed
  4. hulle het hare, hoewel dit nie die hele lyf hoef te bedek nie
  5. hulle het 'n hart met vier kamers, hoewel dit by die monotremata nie heeltemal volledig is nie, en
  6. hulle is warmbloedig, hoewel monotremata 'n laer temperatuur het.

Die meeste word ook gekenmerk daardeur dat hul lewend deur hul moeders gebaar word, maar daar is soogdiere wat eiers lê.

Meeste soogdiere leef op land, alhoewel daar ook soogdiere is wat in die oseaan leef, soos die dolfyn en walvis. Die enigste vlieënde soogdier is die vlermuis. Suid-Afrika het die vinnigste landsoogdier, naamlik die jagluiperd. Suid-Afrika het ook die langste soogdier, die kameelperd en die grootste landsoogdier, die Afrika-olifant.

Die naam "soogdiere" is gegee op grond daarvan dat die moeders hul kleintjies vir ʼn wisselende tyd met melk, afkomstig van die melkkliere, voed. Die diere toon ook 'n groot mate van ouersorg, wat noodsaaklik is vir die fisieke en gedragsontwikkeling van die jong diere.

Soogdiere van die klas Mammalia is een van die werweldierklasse (subphylum Vertebrata). Hierdie soogdiere se voorouers was soogdieragtige reptiele (subklas Synapsida, orde Therapsida) en die diere het tydens die Perm en Trias tydperke (280 tot 190 miljoen jaar gelede) geleef. Die Therapsida het aan die einde van die Trias uitgesterf, maar het toe reeds as klein, knaagdieragtige diertjies bestaan.

Die dinosouriërs het hulle heeltemal tydens die Jura en die Kryt oorheers, hoewel groot getalle van die diertjies blykbaar gedurende die tyd verder ontwikkel het. Die soogdiergeskiedenis is egter nie goed bekend nie, omdat daar tot dusver min fossiele uit die tydperk gevind is. Fossiele van buideldiere (infraklas Metatheria) en plasentale soogdiere (infraklas Eutheria) is in gesteentes, afkomstig uit die Tersiêr, gevind, wat daarop dui dat die twee soogdierlyne reeds apart bestaan het.

Die buideldiere van daardie tyd het soos die hedendaagse opossums gelyk, terwyl die plasentale diere insekte-eters was wat soos groot spitsmuise gelyk het. Die soogdiere het aan die begin van die Mioseen (26 miljoen jaar gelede) die dominante klas gewerwelde diere gevorm. Drie groepe lewende soogdiere kan onderskei word: die eierlêende soogdiere (subklas Prototheria, orde Monotremata), die buideldiere (subklas Theria, infraklas Metatheria, orde Marsupialia) en die plasentale soogdiere (subklas Theria, infraklas Eutheria)

  1. "Animal diversity: Mammalia" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2020.

Developed by StudentB