'n Speelding is 'n voorwerp wat kinders gebruik om mee te speel. Mense is geneig om te speel. Jong kinders speel dikwels, maar baie volwassenes geniet dit ook om te speel. Verskillende materiaal soos hout, klei, papier en plastiek word gebruik om speelgoed te maak. Baie items is ontwerp om as speelgoed te dien, maar goedere wat vir ander doeleindes vervaardig word, kan ook gebruik word.
Die ontstaan van speelgoed is prehistories; poppe wat babas, diere en soldate verteenwoordig, asook voorstelle van gereedskap wat deur volwassenes gebruik word, word maklik by argeologiese terreine gevind. Speelgoed word hoofsaaklik vir kinders gemaak.[1] Die oudste bekende pop is vermoedelik 4 000 jaar oud.[2]
Speelgoed is meestal 'n verkleinde weergawe van die wêreld van die volwassene (motors, vliegtuie, ensovoorts). Die soort speelgoed het 'n lang geskiedenis wat uit allerlei vondste nagespeur is. Deur onder meer die gebruik van nuwe materiale en verbeterde produksiemetodes word die werklikheid so realisties nageboots dat daar deesdae kritiek ingebring word teen die feit dat kinders se verbeelding nie meer geprikkel word nie.
Kindersielkundiges en pedagoë bepleit groter verantwoordelikheid in dié verband, deur te vra dat meer klem gelê word op die opvoedkundige aspek van speelgoed. Net soos die begrip spel, is dit moeilik om speelgoed te definieer. Dit word oor die algemeen omskryf as voorwerpe waarmee kinders speel wat 'n verkleinde weergawe van die werklikheid is.
Die omskrywing het egter slegs betrekking op byvoorbeeld kinderspeelgoed soos 'n motortjie of 'n vliegtuigie en sluit nie die miniatuurtreintjies in waarmee volwassenes hulle vermaak nie, en ook nie die normale grootte bal wat deur 'n kind rondgeskop word nie. Baie speelgoed verplaas wel die wêreld van die volwassene op 'n kleiner skaal na die kind se verwysingsveld. Uitsonderings is speelgoed soos tolle en albasters (by vaardigheidspeletjies), asook dié wat in veral die 20ste eeu onder invloed van die kindersielkunde ontstaan het.
Daar word egter algemeen aanvaar dat speelgoed die nabootsingsdrang van kinders asook hulle behoefte aan identifisering met belangrike volwassenes bevredig. Benewens die regstreekse plesier wat dit verskaf, berei speelgoed ook die kind voor in sy rol as volwassene.