Spook

Die titelblad van Ghost Stories, 'n Amerikaanse tydskrif wat spookverhale gepubliseer het. Uitgawe van Mei 1927

Die geloof in spoke is een van die mees algemene kenmerke van die bonatuurlike en mistiese filosofie en spruit voort uit die oortuiging dat die mens 'n individuele skepsel is, wat uit twee heeltemal verskillende substansies gevorm is, wat onafhanklik van mekaar kan bestaan: Gees (die menslike siel) en materie (die menslike liggaam).

Die meeste godsdienste aanvaar hierdie dualistiese sienswyse en beskou die liggaam as 'n tydelike en verganklike verskynsel, terwyl die menslike siel of gees as 'n ewigdurende fenomeen voorgestel word, wat nie deur die menslike dood geraak word nie. Daar word aangeneem dat die siel ná die afsterwe van 'n mens na 'n ander wêreld toe gaan (byvoorbeeld die "Hemel" of "Paradys" van die Christendom en Islam, die "Nirvana" van die Boeddhisme of enige ander "Wêreld van Geeste").

Af en toe slaag 'n siel, volgens sommige filosofiese en godsdienstige oortuigings, egter nie daarin om na die ander wêreld te gaan nie en bly gevolglik in die stoflike wêreld gevange. Tradisionele legendes beweer dat dit veral voorkom as die dood van 'n mens deur enige tragiese gebeure soos moord of selfmoord veroorsaak is. Daar word dikwels aangeneem dat die gees van die oorledene gereeld as 'n spook by die toneel van sy tragiese afsterwe verskyn.

Die spoke van volksverhale is nie-stoflike wesens met bonatuurlike vermoëns, wat nogtans oor menslike eienskappe beskik. Hulle is die oorsaak van onnatuurlike verskynsels of staan in nou verband daarmee. Volgens tradisionele oortuigings verskyn spoke veral tydens die spookuur (tussen middernag en een uur) as deurskynende wesens met 'n menslike gedaante of as wesens met 'n laken oor hulle hoof.

Die geloof in spoke is 'n kenmerk van die meeste kulture, alhoewel die woord spook in sy meer presiese betekenis net na die geeste van oorledenes verwys.


Developed by StudentB