Die Standaardmodel van deeltjiefisika is ’n teorie in deeltjiefisika waarin drie van die vier basiese natuurkragte (elektromagnetisme, sterk kernkrag en swak kernkrag, maar nie swaartekrag nie) en die elementêre deeltjies wat alle materie vorm, beskryf word. Eksperimente het aangedui dat dié teorie in ooreenstemming is met kwantummeganika en die spesiale relatiwiteitsteorie.
Dit is in die laaste deel van die 20ste eeu in fases ontwikkel deur die werk van wetenskaplikes van oor die wêreld,[1] met die huidige formulering wat in die middel 1970's gefinaliseer is met die eksperimentele bevestiging van die bestaan van kwarke. Sedertdien het die bevestiging van die bokwark (1995), tauneutrino (2000) en Higgsboson (2012) verdere geloofwaardigheid aan die model verleen.
Hoewel die model uiters suksesvol blyk te wees in die verskaffing van eksperimentele voorspellings, verduidelik dit sekere verskynsels nie en is dit nie ’n volledige teorie van basiese wisselwerkings nie. Dit verduidelik nie barion-asimmetrie volledig nie, sluit nie die teorie van swaartekrag in[2] soos deur algemene relatiwiteit beskryf word nie en gee nie ’n antwoord op die vraag hoekom die uitdying van die heelal al hoe vinniger geskied soos moontlik deur donker energie beskryf word nie. Die model sluit ook nie enige deeltjies van donker materie in wat al die nodige eienskappe bevat wat afgelei word uit waareembare kosmologie nie.
Vandag is die Standaardmodel ’n algemeen aanvaarde teorie wat op vele gebiede toepasbaar is. Dit word gebruik as die basis vir die bou van eksotieser modelle wat hipotetiese deeltjies insluit, asook ekstra dimensies en simmetrieë soos supersimmetrie in ’n poging om eksperimentele resulate te verduidelik wat strydig met die Standaardmodel is, soos die bestaan van donker materie en neutrinoskommelings (die verskynsel dat neutrino's van een generasie na ’n ander omgeskakel kan word).