Stereoskopie of stereoafbeelding is ’n tegniek vir die skepping of verbetering van die illusie van diepte in ’n beeld vir binokulêre visie sodat dit driedimensioneel gesien kan word.[1] Die woord stereoskopie kom van die Griekse στερεός stereos, "ferm" of "solied", en σκοπέω skopeō, om te "kyk" of "sien".[2][3] Enige stereoskopiese beeld word ’n stereogram genoem. Die term "stereogram" het oorspronklik verwys na twee stereobeelde wat met ’n stereoskoop besigtig kon word.
Die meeste stereoskopiese metodes behels twee beelde wat nie presies oplyn nie, een vir die kyker se linkeroog en die ander vir sy regteroog. Die twee tweedimensionele beelde word dan in die brein gekombineer om die illusie van drie dimensies te skep. Dit verskil van 3D-beelde, wat in drie volle dimensies vertoon word, omdat die kyker toegelaat word om meer inligting oor die driedimensionele voorwerpe te kry met behulp van kop- en oogbewegings.