Stollingsgesteente is een van drie hoofrotstipes; die ander twee is metamorfe en afsettingsgesteente. Stollingsgesteente word gevorm wanneer magma (ondergronds) of lawa (bogronds) afkoel en verhard. In eersgenoemde geval word van intrusie gepraat en in laasgenoemde geval van ekstrusie. Die vulkaniese rotse kan gevorm word met of sonder kristallisasie. Ander name vir dié soort gesteente is fynkorrelrige, korrelrige, kristallyne, plutoniese en vulkaniese stollingsgesteentes.[1]
Magma kan ontstaan óf uit die gedeeltelike smelting van vooraf bestaande rotse óf in ’n planeet se litosfeer (die kors en boonste deel van die mantel). Die smelting word gewoonlik veroorsaak deur een of meer van drie prosesse: ’n toename in temperatuur, ’n afname in druk of ’n verandering in samestelling. Meer as 700 soorte stollingsgesteentes is al beskryf – die meeste van hulle het onder die aardkors gevorm. Die vorming van magma kom net in enkele tektoniese situasies voor: warm kolle, subduksiesones, mid-oseaanriwwe en skeure.