In geologie is 'n superkontinent die versameling van al die Aarde se kontinentblokke of kratons om 'n enkele, groot landmassa te skep.[1][2] In die lang geskiedenis van die plaattektoniek het dit verskeie kere gebeur, en dan het hulle weer opgebreek.
Sommige wetenskaplikes gebruik die definisie "groepering van voorheen verspreide kontinente", wat ruimte laat vir vertolking en makliker is om op Prekambriese tye toe te pas.[3] Minstens sowat 75% van die kontinentale kors moet egter aanmekaar vas wees om dit te onderskei van 'n gewone kontinent.[4]
Superkontinente het al verskeie kere in die geologiese verlede bymekaargekom en verbrokkel (sien tabel). Dit word die Wilsonsiklus genoem. Volgens moderne definisies bestaan geen superkontinent vandag nie;[1] die naaste daaraan is die huidige Afrika-Eurasiese landmassa, wat sowat 57% van die Aarde se oppervlak beslaan. Pangea is die naam van die kontinentale landmassa wat die laaste keer in een groot stuk was. Die posisies van die kontinente is akkuraat vasgestel tot in die vroeë Jura, kort voor die opbreking van Pangea.[5] Die vroeëre Gondwana word nie volgens die eerste definisie as 'n superkontinent beskou nie omdat die landmassas Baltica, Laurentia en Siberië in dié tyd apart daarvan was.[6]