Tee (Engels: tea; Nederlands: thee; Duits: Tee; Chinees: 茶 chá) is 'n warm drank wat uit die gedroogde blare van die teestruik Camellia sinensis berei word.[1]
Die oorsprong van die teestruik is nie meer bepaalbaar nie. Waarskynlik stam die struik uit suidwes China, Assam of Kambodja. Deesdae word daar onderskei tussen twee oorspronklike teestruike:
Camellia is die latiniseerde naam van die eerw. Georg Joseph Kamel[2] (1661–1706). Kamel was 'n Tjeggiese jesuiët, farmaseut en sendeling op die Filippyne. Die Sweedse dokter, plantkundige en bioloog Carolus Linnaeus het die naam gekies om Kamel se bydrae tot die plantkunde te eer.[3] Alhoewel Kamel die struik nie ontdek het nie[4] en Linneaus die teestruik as Thea beskou het.[5] Dit was die Engelse plantkundige Robert Sweet (1783–1835) wat al soorte van Thea na die klas Camellia verskuif het.[6] Die naam sinensis is die Latynse vorm vir Chinees.
Ruim 2 000 jaar gelede was die Chinese al bewus van die stimulerende werking wat tee het. Waarskynlik het mense eers die blare van die Chinese teestruik (Camellia sinensis) gekou, maar later is daar ontdek dat 'n verfrissende, stimulerende drank berei kon word deur aftreksels van die teeblare te maak.
Die stimulerende werking word verkry van die kafeïen wat in die blare aanwesig is. Na gelang van die bewerking van die blare kan daar tussen twee soorte tee onderskei word, waarvan die sogenaamde swart tee vir die internasionale handel die belangrikste is.
In Japan en China word groen tee verkies, wat verkry word uit ongegiste blare. Buiten swart tee, wat ook in Suid-Afrika verbou word, is rooibostee of rooitee (Aspalathus linearis) ook ʼn gewilde drank in Suid-Afrika, en die bemarking en beheer daarvan geskied reeds sedert 1954. Dit word dikwels as 'n gesondheidsdrank beskou omdat dit geen kafeïen bevat nie en net 'n lae persentasie tannien bevat.