Treviso

Treviso
Trevizo

Kaart (provinsie) Wapen
Vlag
 Land Vlag van Italië Italië
 Gewes Veneto
 Provinsie Treviso (TV)
 Koördinate 45°40′N 12°15′O / 45.667°N 12.250°O / 45.667; 12.250
 Stigting 89 v.C. (Tarvisium)
 Oppervlakte:  
 - Totaal 55,58 vk km
 Hoogte bo seevlak 15 m
 Bevolking:  
 - Totaal (31 Desember 2018) 85 365
 - Bevolkingsdigtheid 1 542,2/vk km
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Klimaat  
 - Tipe Gematigde seeklimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 14,0 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 3,3 / 24,6 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 893,34 mm
 Burgemeester Mario Conte (Lega Nord)
 Amptelike webwerf comune.treviso.it

Treviso (Italiaans: [treˈviːzo], ; Venesiaans Trevizo, [tɾeˈʋizo]) is 'n welvarende nedersetting en munisipaliteit (comune) in die Noordoos-Italiaanse streek Veneto met 'n bevolking van meer as 85 000. Na sy inwoners word in Italiaans as trevisani of trevigiani verwys.[1] Die laasgenoemde is afgelei van Trevigi of Trivigi, twee historiese naamvariante.[2]

Straattoneel langs die Riviera Santa Margherita, ’n oewerpad langs die Silerivier
Piazza dei Signori met die Palazzo dei Trecento. Die Torre Civica of belfort teen die agtergrond dateer van 1218
Canale dei Buranelli. Treviso se kanale en voetbrûe het, net soos sy ander argitektoniese en kunsskatte en sy groot verlese, aan die stad die bynaam "Klein-Venesië" besorg. Histories was Treviso in 1339 die eerste nedersetting in Veneto wat hom by die Venesiaanse Dogerepubliek aangesluit het. Vervolgens is dit uitgebou tot 'n vesting wat Venesië teen aanvalle uit die noorde sou beskerm. Kanale en ’n stadsmuur het deel uitgemaak van die versterkings

Treviso, wat as administratiewe setel van die gelyknamige provinsie dien, is in die Venesiaanse vlakte by die samevloeiing van die Botteniga- en Sile-riviere geleë, sowat 30 km noord van Venesië en 40 km noordoos van Padua – temidde van die historiese landskap Marca Trevigiana (in Italiaans dikwels kort la Marca genoem), 'n vrugbare landboustreek waar bronwater volop is. Die Botteniga-rivier, ook bekend onder sy historiese naam Cagnan, vloei vanuit 'n noordelike rigting deur die historiese stadskern waar dit in verskillende rivierarms vertak voordat dit in die Sile uitmond. Net soos in Venesië is langs Treviso se rivierarms en kanale sypaadjies (Italiaans: fondamente) en booggange (sottoportici of sottoporteghi) aangelê.[3]

In ekonomiese opsig word die stadsnaam verbind met wêreldrolspelers soos De’Longhi en Benetton – twee ondernemings wat hul oorsprong in Treviso het en steeds vanuit die stad bestuur word – en sy Antonio Canova-lughawe (een van drie in Venesië en sy omgewing – genoem na die befaamde Venesiaanse neoklassieke beeldhouer wie se borsbeeld hier vertoon word).[4] Dit is veral gewild by laekosterederye soos die Ierse Ryanair en hanteer jaarliks meer as drie miljoen passasiers. Treviso is daarnaas een van Italië se modemetropole – met bekende mode-etikette wat hul hoofkwartiere in die nabye omgewing het en 'n groot verskeidenheid modeboetieke. Vir fynproewers bied Treviso 'n groot keuse van eersterangse restaurante en osterie.

Treviso, wat reeds in die antieke tydperk deur Kelte gestig is en in die 1ste eeu v.C. Romeinse stadstatus toegeken is, het sy bloeitydperk tussen die 12de en 14de eeu beleef. Die elegante paleise op die plein Piazza dei Signori, waaronder die ou raadsaal Palazzo dei Trecento (begin in 1185 en genoem na die 300 lede van die stadsraad) in die Romaanse styl, dateer uit hierdie periode. Middeleeuse digters het na Treviso weens sy rustige en gesofistikeerde atmosfeer as "hoofse stad" of città cortese verwys. Treviso was 'n sentrum van hoofse kultuur waar gereeld ridderspele gehou is; vandaar die Middeleeuse bynaam Marca gioiosa et amorosa vir die stad en sy omgewing.

Nadat Treviso in die 14de eeu as eerste stad op die vasteland onder die bewind van die Republiek Venesië gekom het, het dit 'n lang periode van politieke stabiliteit en ekonomiese welvaart beleef. Die stad en sy omgewing was een van die gunstelingplekke van welvarende Venesiane wat hier in die 18de eeu paleise as somerverblyf laat bou het.[5]

Van Treviso se belangrikste argitektoniese besienswaardighede is die ryklik versierde fasades van woongeboue, veral in die stadsbuurt Calmaggiore. Hierdie tradisie het sy oorsprong in die Middeleeue toe plaaslike families gewedywer het om hul woonhuise, wat weens 'n gebrek aan waardevolle stene as boumateriaal hoofsaaklik van bakstene en hout gebou is, ten minste met kunsvolle en kleurryke fresko's te versier. Hierdie versierings het aan Treviso die bynaam "die geskilderde stad" (Latyn: urbs picta, Italiaans: Città Dipinta) besorg. Afgesien van die skade wat die historiese middestad in die twee wêreldoorloë gely het, het die Middeleeuse stadsbeeld die negatiewe gevolge van moderne stads- en verkeersbeplanning gespaar gebly. Die meeste fresko's het nogtans verlore gegaan.

Terwyl riviere en kanale aan Treviso sy besondere karakter gee, verg die stad se historiese argitektuur groot aandag. Talle woonhuise is regstreeks oor die waterlope opgerig waar fondamente aan erosie blootgestel is – net soos in Venesië. In Julie 2018 is nuusberigte oor omvattende erosieskade aan 'n 16de eeuse palazzo oor die Cagnan-kanaal in via San Leonardo gepubliseer. Die gebou is deur ineenstorting bedreig.[6]

  1. Treccani Enciclopedia on line: Treviso. Besoek op 12 Julie 2020
  2. Treccani Vocabolario on line: trevigiano. Besoek op 12 Julie 2020
  3. Klaus Zimmermanns: Venetien. Städte und Villen der Terraferma. Ostfildern: DuMont 2005, bl. 267
  4. Die lughawe het tot verdere kennisgewing gesluit. Treviso word voorlopig deur die Venesiaanse lughawe Marco Polo bedien.
  5. (it) Italia Agenzia Nazionale Turismo: Treviso. Geargiveer 25 Augustus 2019 op Wayback Machine Besoek op 19 Januarie 2019
  6. (it) Treviso Today, 11 July 2018: Rischio di crollo per un palazzo storico del centro: fondamenta trovate erose dal Cagnan. Besoek op 19 Junie 2019

Developed by StudentB