’n Trojaan in sterrekunde is ’n kleinplaneet of natuurlike satelliet (maan) wat ’n wentelbaan deel met ’n planeet of groter maan, maar nie daarmee bots nie omdat hulle vasgevang is by een van die twee stabiele Lagrange-punte, L4 en L5 (ook trojaanpunte genoem), wat onderskeidelik sowat 60 grade voor en agter die groter voorwerp in sy wentelbaan voorkom. Trojane word soms ook Lagrange-voorwerpe genoem.
Lagrange-punte is posisies van stabiele swaartekrag – die punte waar die gesamentlike swaartekragaantrekking van twee groot liggame (soos ’n planeet en die ster waarom hy wentel) die presiese middelpuntsoekende krag verskaf wat nodig is sodat die trojaan saam met die kleiner liggaam om die groter liggaam kan wentel en dié wentelbaan stabiel bly.[1]
In 2011 het Nasa die ontdekking aangekondig van 2010 TK7, die eerste Aarde-trojaan.[2]