| |||||
Nasionale leuse: Unité, Travail, Progrès (Frans) الاتحاد، العمل، التقدم (Arabies) (Afrikaans: "Eenheid, Arbeid, Vooruitgang") | |||||
Volkslied: La Tchadienne (Frans) نشيد تشاد الوطني (Arabies) (Afrikaans: "Die Tsjadiese lied") | |||||
Hoofstad | N'Djamena | ||||
Grootste stad | N'Djamena | ||||
Amptelike tale | Arabies en Frans | ||||
Regering | Unitêre semi-presidensiële grondwetlike republiek Mahamat Déby vakant Allamaye Halina | ||||
Onafhanklikheid | 28 November 1958 11 Augustus 1960 4 Mei 2018 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
1 284 000[1] km2 (20ste) 495 755 myl2 1,9 | ||||
Bevolking - 2024-skatting - 2009-sensus - Digtheid |
19 093 595[1] (65ste) 11 039 873[2] 14,87 / km2 (212de) 22,27 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2022) | 0,394[4] (189ste) – laag | ||||
Gini (2022) | 37,4[5] – medium | ||||
Geldeenheid | CFA-frank (XAF )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
WAT (UTC+1) nie toegepas nie (UTC+1) | ||||
Internet-TLD | .td | ||||
Skakelkode | +235 |
Tsjad (verouderde vorm: Tsjaad, Arabies: تشاد, Tshād, [ˈtʃaːd]; Frans: Tchad, [tʃa(d)], ), amptelik die Republiek Tsjad (Arabies: جمهورية تشاد, Jumhūriyyat Tshād; Frans: République du Tchad; letterlik: "Republiek van die Tsjad"), is 'n landingeslote land in Sentraal-Afrika. Dit grens aan Libië in die noorde, Soedan in die ooste, die Sentraal-Afrikaanse Republiek in die suide, Kameroen en Nigerië in die suidweste en Niger in die weste. Tsjad beslaan 'n oppervlakte van 1 284 000 km² en het 'n bevolking van 19 093 595 in 2024 gehad. Die hoofstad en grootste stad is N'Djamena, tot in November 1973 Fort Lamy genoem. Ander stede sluit in Sarh in die suide en Faya-Largeau in die noorde.
Die Republiek Tsjad is die noordelikste van die vier onafhanklike Afrikalande wat uit die vroeëre Frans-Ekwatoriale Afrika ontstaan het en het op 11 Augustus 1960 onafhanklik geword.
As gevolg van die land se afstand van die see en die grootliks woestynklimaat word die land soms die "dooie hart van Afrika" genoem. In die noorde sluit dit die Tibestigebergte (3 415 m) in, die grootste bergreeks in die Saharawoestyn. Die sentrale gedeelte van Tsjad vorm deel van die Sahel en die suide behoort tot die Soedangebied. Die land beslaan ook 'n deel van die Tsjadmeer wat as gevolg van dehidrasie krimp. Hierdie meer is op 'n hoogte van 281 m geleë, is net meer as 'n meter diep en word deur 'n moerasgebied omring. Tsjad se belangrikste waterweë is die Chari- (1 200 km) en die Logonerivier (970 km), wat albei na die Tsjadmeer vloei.
Tsjad is een van die armste lande wêreldwyd, hoewel in onlangse jare die ontginning van ruolie begin het. Die klein landbousektor word deur die toenemende droogte in die streek ernstig bedreig. Naas die twee amptelike tale Arabies en Frans word onder meer Fula, Hausa en Kanuri gebesig. Van die etniese groepe sluit in Sara, Arabiere, Fula, Hausa en Kanuri. Sowat 52% van die land se bevolking is Moslems, gevolg deur Christene.[1]
Nywerheidsontwikkeling is gering en die land het nouliks enige delfstowwe. Die bevolking bestaan uit 'n groot aantal stamme wat verskeie tale en dialekte praat. Die belangrikste teenstelling lê egter in die verskil tussen die relatief dig bevolkte vrugbare suide (met 'n bevolking wat waarde heg aan hut tradisionele Afrika-waardes), en ’n gearabiseerde bevolking in die onvrugbare, yl bevolkte noorde van die land.
Tsjad kan volgens sy landskap in drie streke ingedeel word. Die vrugbaarste deel is die savannes in die suide, waar die meeste reën val. Ook die sentrale deel van die land word deur grasagtige vlaktes gekenmerk, maar in die noorde is daar uitsluitend sand van die Sahara. Tsjad is oor die algemeen 'n baie plat land.