Vallei van die Konings | ||
Die ligging van die Vallei van die Konings in die Thebaanse Heuwels wes van die Nyl (Oktober 1988). | ||
Koördinate | 25°44′27″N 32°36′8″O / 25.74083°N 32.60222°O | |
Plaaslike naam | Wādī al Mulūk, وادي الملوك | |
Land | Egipte | |
Soort | Dodeakker | |
Geskiedenis | ||
Gestig | 16de eeu v.C. | |
Tydperk | 18de tot 20ste Dinastie | |
Unesco-wêrelderfenisgebied | ||
Tipe | Kultureel | |
Kriteria | i, iii, vi | |
Verwysing | 87 | |
Streek† | Arabiese State | |
Beskrywing* | Antieke Thebe met sy nekropolis | |
† Streek soos deur Unesco geklassifiseer. * Naam soos op die Wêrelderfenislys |
Die Vallei van die Konings (Arabies: وادي الملوك, Wādī al Mulūk) is ’n vallei in Egipte waar grafkelders in die 16de tot 11de eeu v.C. byna 500 jaar lank gebou is vir farao's en ander adellikes van die Nuwe Ryk (die 18de tot 20ste Dinastie van Antieke Egipte).[1][2] Die vallei is aan die westeroewer van die Nylrivier geleë, oorkant Thebe (die moderne Luxor), in die hart van die Thebaanse Dodeakker.[3] Die wadi bestaan uit twee valleie, die Oostelike Vallei (waar die meeste koninklike grafkelders is) en die Westelike Vallei.
Sedert die ontdekking in 2005 van ’n nuwe grafkelder (KV63) en in 2008 van nog twee grafkelderingange,[4] huisves die vallei 65 bekende grafkelders wat in grootte wissel van KV54, ’n eenvoudige put, tot KV5, ’n komplekse kelder met meer as 120 grafkamers.[5] Die koninklike grafkelders is versier met tonele uit die Egiptiese mitologie en gee aanduidings van die geloof en begrafnisrituele van die tydperk. Dit lyk of al die kelders in antieke tye al geopen en beroof is, maar dit gee steeds ’n blik op die weelde en mag van die farao's.
Groot argeologiese en Egiptologiese uitgrawings vind sedert die einde van die 18de eeu hier plaas en dit is ’n bron van voortdurende belangstelling en navorsing. In die moderne tyd het die vallei beroemd geraak met die ontdekking van Toetankamen se grafkelder met sy gerugte van die vloek van die farao's.[6] Dit is een van die bekendste argeologiese terreine in die wêreld en in 1979 het dit ’n Unesco-wêrelderfenisterrein geword saam met die res van die Thebaanse dodeakker.[7]
Uitgrawings en die bewaring van artefakte duur voort en ’n nuwe toeristesentrum is onlangs geopen.