Vediese tydperk | |
---|---|
Uitbreiding in die laat Vediese tydperk.
| |
Streek | Suid-Asië |
Periode | Ystertydperk |
Datum | c. 1500-500 v.C. |
Voorloper | Indusvalleibeskawing |
Opvolgers | Brihadrathas-, Haryankadinastie, Mahajanapadas |
Die Vediese tydperk (c. 1500-500 v.C.) was die periode in die geskiedenis van Indië waartydens die Vedas, die oudste geskrifte van Hindoeïsme, saamgestel is. Die presiese datums van die tydperk is onseker; die oudste Veda, die Rigveda, is volgens sommige kenners tussen omstreeks 1700 en 1100 v.C. saamgestel. Dit word soms die vroeë Vediese tydperk genoem.
Aan die begin van die Vediese tydperk het Indo-Ariërs Noord-Indië betrek en hul godsdienspraktyke met hulle saamgebring. Die kultuur word soms die Vediese beskawing genoem.[1] Dit was aanvanklik ’n herdersgemeenskap wat in die noordwestelike dele van die Indiese subkontinent gesentreer was. Ná 1200 v.C. het dit na die Gangesvlakte versprei en is dit gekenmerk deur die opkoms van ’n landboubeskawing, ’n hiërargie van vier sosiale klasse en monargale staatvlakpolitiek.[2][3] Sommige geleerdes glo die Vediese beskawing het ’n kombinasie van die Indo-Ariese en die Induskultuur gehad.[4]
Teen die einde van die Vediese tydperk het groot, verstedelikte state en godsdiensbewegings soos Djainisme en Boeddhisme ontstaan wat ’n bedreiging vir Vediese ortodoksie ingehou het.[5] Omstreeks die begin van die Christelike tydperk het die Vediese tradisie een van die hoofkomponente van die vroeë Hindoeïsme geword.[6]