Verbuiging of fleksie, is in taalkunde variasie in die vorm van 'n woord, tipies deur middel van 'n affiks, wat grammatikale betekenis uitdruk, wat 'n vereiste vir die stam se woordklas is in 'n gegewe grammatikale konteks.[1] Die verandering van die woord weerspieël grammatikale inligting soos geslag, naamval, tyd, getal of persoon. Die konsep van 'n "woord" onafhanklik van verskillende verbuigings word 'n lekseem genoem, en die vorm van die woord wat beskou word asof dit geen of minimale verbuiging het, word 'n lemma genoem.
Anders as afleiding, lei verbuiging nie tot 'n verandering in die woordsoort nie en word daar gewoonlik 'n voorspelbare, nie-eienaardige verandering in betekenis teweeg gebring.[1]
In die morfologie word daar dus by affikse onderskeid getref tussen fleksie en afleiding. Hierdie verskynsels hou sterk verband met woordvormingsleer, vormleer, fleksiemorfeme, afleidingsmorfeme, geflekteerde woorde en afgeleide woorde.[2] Hierdie is afhanklike komponente wat aan ʼn stam moet verbind, en dit dra nooit die meeste betekenis in ʼn kompleks nie, maar dit dra wel betekenis.Fleksie word gesien as die morfologiese markering van eienskappe op ʼn woord wat ʼn aantal grammatikale vorme tot gevolg het. Fleksie neem dus as invoer ʼn woord en gee as afvoer ʼn vorm van dieselfde woord binne ʼn grammatikale konteks.[3] Dit wil sê dat ʼn woord soos hond verander kan word na hond-e of hond-jie en dit is twee verskillende geflekteerde vorme van die oorspronklike woord, maar nie een van hierdie woorde het hul eie lemmas in die Afrikaanse woordeboek nie.