Bynaam | Die Seskleur / Die Reënboogvlag |
---|---|
Gebruik | Burgerlike- en staatsvlag en vaandel |
Verhouding | 2:3 |
Goedgekeur | 27 April 1994 |
Ontwerp | ’n Swart driehoek met geel fraiing teen die vlagpaal, ’n groen gaffel met wit fraiings met sy tande teen die vlagpaal en loop tot in die wapperkant met rooi bo en blou onder. |
Ontwerp deur | Frederick Brownell |
Gebruik | Vlootvaandel |
Verhouding | 2:3 |
Goedgekeur | 29 September 1994 |
Ontwerp | ’n Groen Sint Joriskruis met wit agtergrond en die nasionale vlag in die skildhoek. |
Bynaam | Lugmagvaandel |
Verhouding | 2:3 |
Goedgekeur | 27 April 1994 |
Ontwerp | ’n Blou vlag met die rondeau van die Suid-Afrikaanse Lugmag in die wapperkant en die nasionale vlag in die skildhoek. |
Die nasionale vlag van Suid-Afrika is op 20 April 1994 in die Staatskoerant afgekondig en op 27 April 1994 amptelik in gebruik geneem. Die vlag is reghoekig en het ’n ewe groot rooi (bo) en blou (onder) horisontale band, wat deur ’n middelste groen band geskei word. Die groen band vertak in ’n horisontale Y-vorm, waarvan die twee bene in die hoeke aan die vlagpaal se kant eindig. Binne-in die twee groen bene is ’n swart driehoek, wat met goue strepe geskei word. Die rooi en blou band word deur wit strepe van die groen band geskei. Die bane aan die wapperkant het ’n verhouding van 5:1:3:1:5.
Die vlag van Suid-Afrika is in Maart 1994 deur die destydse Suid-Afrikaanse staatsheraldikus Frederick Brownell ontwerp en aan die begin van die algemene verkiesing van 1994 goedgekeur. Die nuwe nasionale vlag is gekies om die land se nuwe demokrasie aan die einde van apartheid te simboliseer en het die vlag vervang wat van 1928 af gebruik is. Met die einde van apartheid was daar ’n algemene gevoel dat die voormalige nasionale vlag – bekend as Oranje, Blanje, Blou weens sy kleure – vervang moes word as gevolg van sy rassistiese konnotasies in die oë van baie Suid-Afrikaners. Die ou vlag word vandag dikwels óf as ’n simbool van Afrikanernasionalisme of as ’n simbool van apartheid beskou.
In die soeke na ’n nuwe vlag is die publiek ingespan om aan ’n wedstryd deel te neem, maar geen van die ontwerpe is deur die Nasionale Simbolekommissie goedgekeur nie. Toe die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika nader, is ’n ontwerp van Frederick Brownell tydelik aangeneem en net sewe dae voor dié geleentheid aan die publiek bekendgestel. Die reaksies was só positief dat die tydelike vlag amptelik as nasionale vlag in die grondwet van Suid-Afrika, Hoofstuk 14 se Bylae 1 – Nasionale Vlag (bl. 129), ingeskryf is. Gesien in die lig van die probleme wat Suid-Afrika in sy geskiedenis beleef het, is die konsensus oor die nuwe nasionale vlag buitengewoon. Ten spyte van sy nuutheid het die vlag ’n uitstekende nasionale simbool geword. Byname vir die vlag sluit in die Seskleur[1] en die Reënboogvlag.[2]