Vlaminge | |
---|---|
Totale bevolking: | ca. 7,3 miljoen |
Belangrike bevolkings in: | België ~6,5 miljoen[1] Verenigde State 389 171[2] |
Taal: | Nederlands |
Geloofsoortuiging: | Hoofsaaklik Rooms-Katolieke Kerk of ongebonde (Ateïsme • Agnostisisme • Deïsme) Minderheid Protestantisme |
Verwante etniese groepe: | Ander Germaanse volke soos Afrikaners, Duitsers, Engelse, Friese en Nederlanders; Franse en Wale |
Die term Vlaminge word tans hoofsaaklik gebruik om na die inheemse bevolking van Vlaandere (die noordelike helfte van België, wat in historiese opsig deel uitgemaak het van die Suidelike Nederlande) te verwys. Die ses miljoen Vlaminge verteenwoordig die meerderheid van die Belgiese bevolking (die ander twee belangrike groepe is die Wale met sowat 4 miljoen mense en die Duitse gemeenskap met 73 000 inwoners).
Naas die bewoners van die Belgiese gewes Vlaandere sluit die term ook etniese Vlaminge in Frans-Vlaandere (veral in die huidige Franse département Nord), die suidelike deel van die Nederlandse provinsie Zeeland (Zeeuws-Vlaanderen) en ander Vlaamse gemeenskappe dwarsoor die wêreld in.
Frans-Vlaandere en Zeeuws-Vlaanderen het vroeër deel uitgemaak van die graafskap Vlaandere, wat sy naam aan die hele gewes verleen het, alhoewel 'n groot deel van die Belgiese Vlaandere tot ander gebiede soos die hertogdom Brabant behoort het. Die Vlaminge word soms as 'n deel van die Nederlandse volk of nou verwante etniese groep beskou.