Die terme vloeikristalskerm of vloeikristalvertooneenheid (Engels: liquid crystal display, LCD) verwys na skerms en vertooneenhede, wat gebruik maak van spesiale vloeikristalle – organiese stowwe, wat onder die invloed van elektriese spanning die rigting van die lig se polarisasie kan beïnvloed. Vloeikristalskerms is geskik om letters, syfers, simbole en beelde te vertoon.
Die skerms en vertooneenhede beskik oor pixels, tekensegmente of simbole, waarin die vloeikristalle se oriëntasie deur middel van 'n elektriese veld bestuur kan word. Danksy polarisasiefilters kan die oriëntasie sigbaar gemaak word. Hierdie tegnologie word in meetapparate, elektroniese toestelle, selfone, digitale horlosies, sakrekenaars en gevorderde plat televisieskerms toegepas.
TFT (thin film transistor)-skerms, wat uit vloeikristalskerms ontwikkel is, bevat 'n aktiewe matriks van dunlaagtransistors en is tans die oorheersende tegnologie op die mark van plat skerms. Naas skerms word ook talle videoprojektors met vloeikristal-modules toegerus.