Die vrye wil word meestal gedefinieer as die vermoë van rasionele mense om beheer uit te oefen oor hul dade en besluite. Om die vraag te beantwoord of dié vermoë werklik bestaan, moet gekyk word na die verband tussen vryheid en oorsaaklikheid en moet die deterministiese aard van die natuurwette ondersoek word.
Twee uiterste menings word gehuldig in die debat oor die onderwerp: enersyds die metafisiese vrydenkery, wat glo determinisme is verkeerd en dat die vrye wil dus bestaan (of ten minste moontlik is), en andersyds determinisme, waarvolgens handelinge deur buitefaktore bepaal word en die vrye wil dus nie bestaan nie. Die twee menings word as onversoenbaar beskou. Daarbenewens is daar die mening wat bogenoemde idees versoen: dat determinisme dalk wel bestaan, maar dat dit nie die vrye wil uitsluit nie; die twee kan dus naas mekaar bestaan.
Die vraag na die bestaan van die vrye wil is ’n klassieke een in die filosofie van die gees. In ’n breër sin het dit ook teologiese, etiese en wetenskaplike implikasies. Op godsdienstige vlak kan vrye wil byvoorbeeld impliseer ’n almagtige godheid oefen geen mag uit oor die wil en keuses van die mens nie. In die etiek kan dit beteken dat individue vir hul dade moreel verantwoordelik gehou kan word. En op wetenskaplike gebied kan dit die vraag laat ontstaan of die mens se doen en late afhang van fisieke oorsake, soos die funksies en meganisme van die menslike brein.