Vuur is die sigbare (lig) en voelbare (hitte) verskynsel wat voorkom as 'n brandbare stof by hoë temperatuur 'n oksidasiereaksie ondergaan. Die hitte veroorsaak 'n vertikale lugstroom, en verhitte materie stel brandbare gasse vry, waarmee die proses homself in stand hou. Ongekontroleerde uitbreiding van vuur kan tot 'n brand lei.
Chemies is vuur die vinnige oksidasie van 'n materiaal in die eksotermiese chemiese proses van verbranding, met die gevolglike vrystelling van hitte, lig, en verskeie reaksieprodukte.[1] Hierdie definisie sluit nie stadiger oksiderende prosesse soos roes of vertering in nie.
Vuur is warm omdat energie vrygestel word in die omskakeling van die swak dubbelbinding in molekulêre suurstof, O2, na die sterker verbindinge in die verbrandingsprodukte: koolstofdioksied en water; die bindingsenergie van die brandstof speel slegs 'n geringe rol hierin. Op 'n sekere punt in die verbrandingsreaksie, die ontvlammingspunt, word vlamme geproduseer. Die vlam is die sigbare gedeelte van die vuur. Vlamme bestaan hoofsaaklik uit koolstofdioksied, waterdamp, suurstof en stikstof.
As dit warm genoeg is, kan die gasse geïoniseer word om plasma te produseer. Afhangende van die stowwe wat aan die brand gesteek is, en enige onsuiwerhede daarbuite, kan die kleur van die vlam en die vuur se intensiteit verskillend wees.
Vuur in sy eenvoudigste vorm kan lei tot 'n verwoestende brand, wat fisiese skade kan veroorsaak weens verbranding. Vuur is 'n belangrike proses wat wêreldwyd 'n invloed uitoefen op ekologiese stelsels. Die positiewe gevolge van vuur sluit die stimulering van plantegroei in en die instandhouding van verskillende ekologiese stelsels.
Die negatiewe gevolge van die vuur is die bedreiging van lewens en eiendom; atmosferiese besoedeling en waterbesoedeling.[2] Wanneer vuur die beskermende plantegroei vernietig, kan swaar reënval lei tot 'n toename in gronderosie deur water.[3] Wanneer plantegroei verbrand, word die stikstof wat dit bevat in die atmosfeer vrygestel, in teenstelling met elemente soos kalsium en fosfor wat in die as agterbly en maklik in die grond herwin word. Die verlies aan stikstof bring 'n langtermyn vermindering in die vrugbaarheid van die grond teweeg, en kan slegs herstel word wanneer stikstof vanuit die antmosfeer deur weerlig herstel word.
Vuur word gebruik in godsdienstige rituele, vir die skoonmaak van grond vir landboudoeleindes, in kookkuns, die opwekking van hitte en lig, vir seinvure, aandrywingsdoeleindes, smeltwerk, smeewerk, verbranding van afval, verassing en as 'n wapen van vernietiging.
Argeologiese vondste bewys dat vuur reeds in die vroegste tye aan die mens bekend was. Die beheersing van vuur word saam met die ontwikkeling van die eerste werktuie as een van die eerste en kritieke stappe in die menslike kultuur beskou.
Op grond van argeologiese vondste is dit duidelik dat vuur ongeveer 500 000 jaar gelede aan die Pekingmens bekend was. Die gebruik daarvan het sedertdien uitgebrei, al was die mens nog nie daartoe in staat om self vuur te maak nie en daarom afhanklik van toevallige ontbranding soos deur weerlig veroorsaak. Betroubare tegnieke om vuur te maak, het in ongeveer 7 000 v.C. ontstaan.
Daar word oor die algemeen aanvaar dat die beheersing van vuur een van die eerste en beslissende stappe in die onwikkeling van die menslike kultuur was. Sommige antropoloë meen selfs dat die ontwikkeling van spraak ten nouste saamhang met die gebruik wat mense gehad het om rondom ʼn vuur te sit. Hierdie stimulerende sosiale gebruik verklaar dan ook waarom oop kaggels, 'n braaivleis en fondues vandag nog so gewild is.