Wa

'n Voorstelling van 'n vroeë ossewa wat onder meer deur die Voortrekkers in die Groot Trek na die noorde van die land gebruik is. Hierdie afbeelding is by die Voortrekkermonument in Pretoria te sien.

’n Wa is ’n voertuig wat vir die vervoer van goedere en ook mense gebruik word en is meestal vierwielig, soos ’n ossewa, perdewa (wat albei deur diere getrek word), sleepwa en ’n woonwa.

Dit is bekend dat die wiel en die wa min of meer dieselfde tyd ontwikkel is, vermoedelik heel eerste deur die Mesopotamiërs sowat 5 500 jaar gelede, toe mense ontdek het dat dit heelwat makliker is om sleë te trek wanneer dit met houtwiele toegerus is. Daarna het die wa vinnig veld gewen in Europa en die sentrale deel van Asië. Dit was hoofsaaklik tweewielwaens en die Grieke en Romeine het byvoorbeeld later ligter en vinniger waens as dié van die Egiptenare gebou.

Die vierwielwa is waarskynlik eerste deur die Duitsers in die tydperk van sowat 400 v.C. tot sowat 1400 n.C. gebou en geleidelik verbeter. Britse goewerneurs van die Amerikaanse kolonies het die eerste waens aan Noord-Amerikaners bekend gestel en die ossewa met seile om (die “prairie schooner” genoem) is die eerste keer deur Duitse boere van Pennsilvanië gebou en het daarna het ’n onmiskenbare rol gespeel in die ontwikkeling van Amerika. Suid-Afrika se eerste, groter ossewaens was ook deur die Duitse ossewa beïnvloed.

Die woord wa is goed ingeburger in die Afrikaanse taal en word gewoonlik doeltreffend saam met ander woorde ingespan, soos ’n kruiwa, vuurwa, vangwa, bokwa, kolewa en waenhuis.


Developed by StudentB