Walvis

Walvisse
'n Bultrugwalvis.
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Subklas:
Orde:

Walvisse is seesoogdiere van die orde Cetacea of Walvisagtiges wat nòg dolfyne – met ander woorde lede van die families Delphinidae of Platanistoidae – nòg seevarke is. Hulle is baie goed by 'n waterbestaan aangepas aangesien hulle 'n gladde spoelvormige liggaam het, terwyl die ledemate tot vinvormige strukture gewysig is. Die walvisse moet van tyd tot tyd na die oppervlak kom omdat hulle met behulp van longe asemhaal.

Die blouwalvis is die grootste dier wat nog gelewe het. Daar word egter 'n aantal kleiner spesies aangetref wat meestal as dolfyne bekend staan. Die voortbestaan van walvisse word teenswoordig deur besoedeling en walvisjag bedreig. Walvisjag het daartoe gelei dat die meeste groot spesies in die Noordelike Halfrond uitgesterf het, hoewel hulle nog in relatief groot getalle in die Suidelike Halfrond voorkom.

Hulle voortbestaan word nou egter ook in die suide bedreig. Walvisse is die soogdiere wat die beste by 'n bestaan in die see aangepas is. Anders as robbe kom hulle glad nie uit die water nie. 'n Gestrande walvis kan ook nie na die see terugkeer nie. Daar bestaan onsekerheid oor die klassifikasie van walvisse. Volgens die algemeenste klassifikasiemetode word walvisse en dolfyne as lede van die orde Cetacea beskou, terwyl 3 subordes erken word.

ʼn Ander stelsel verdeel die verskillende walvisse in 3 ordes, omdat dit blyk dat die diere uit verskillende voorgangers ontwikkel het. In die artikel word al die walvisse en dolfyne as lede van die orde Cetacea beskou. Geen lede van die suborde Archaeoceti lewe vandag nie. Volgens die groep se fossielrekord kan 3 families onderskei word. Twee lewende subordes word nog aangetref, die Odontoceti (tandwalvisse) en die Mystacoceti (die baleinwalvisse).

Die suborde Odontoceti bestaan uit diere soos dolfyne, tandwalvisse en spermwalvisse. Lede van die suborde is relatief klein, hoewel verteenwoordigers van die families Physeteridae (spermwalvisse) en die Hyperoodontidae groot genoeg is om walvisse genoem te word. Lede van die Mystacoceti se tande verdwyn na geboorte en word deur horingagtige plate (balein) vervang wat hulle gebruik om plankton (as voedsel) uit die water mee te sif. Die grootste walvisse word in hierdie suborde aangetref en hulle lengtes kan tussen 6 en 33 m wissel.


Developed by StudentB