'n Walvisgesang is die geluide wat deur walvisse gemaak word om te kommunikeer. Die woord gesang word gebruik om die reëlmatige, voorspelbare reeks klanke, veral gemaak deur die boggelwalvis, te beskryf, omdat dit so baie klink na menslike sang. Seesoogdiere - die walvis, die dolfyn, en die tornyn - is veel afhankliker van klank vir kommunikasie as landsoogdiere, want die ander sintuie word belemmer deur die wateromgewing. Klank trek ook vier keer vinniger deur water as deur lug. Daar word geglo dat die gesange 'n seksuele motief het. Dit lyk of die mannetjie-boggelwalvis meestal sing om 'n wyfie aan te lok, en daar is vroeër geglo dat hy dit hoofsaaklik in die winter doen, tydens die paarseisoen. Nuwe navorsing toon aan dat hy ook tydens die lente sing.[1] Navorsers glo steeds dat dit geskied met 'n seksuele doel (om 'n emosionele band te probeer kry met 'n wyfie vir die volgende winter) maar wonder of dit nie ook kan wees om 'n rangorde onder die mannetjies daar te stel nie. Die heel nuutste navorsing (sien hieronder) kan 'n speek in die wiel van hierdie eenvoudige verklaring steek.