Die Warskouverdrag (voorheen die Verdrag van Vriendskap, Samewerking, en Gemeenskaplike Bystand, soms ook kortweg na verwys as WarPac, in opposisie tot NAVO; Russies: Договор о дружбе, сотрудничестве и взаимной помощи)[1] was 'n kollektiewe verdedigingsverdrag tussen die Sowjetunie en sewe ander satellietstate in Sentraal- en Oos-Europa tydens die Koue Oorlog. Die Warskouverdrag was die militêre aanvulling tot die Raad vir Gemeenskaplike Ekonomiese Bystand, die streeksorganisasie vir die kommunistiese state in Sentraal- en Oos-Europa. Die Warskouverdrag is gestig in reakie tot die integrasie van Wes-Duitsland by NAVO,[2][3][4] in 1955 asook oor die Parysverdrae van 1954,[5][6][7][8][9] maar daar was ook geglo dat die organisasie gemotiveer is deur die Sowjetunie se strewe om beheer te behou oor die militêre magte van Sentraal- en Oos-Europa.[10]
Hoewel die Waskouverdrag gestig is as 'n magsbalans,[11] of teenwig teen[12] NAVO, was daar nooit werklike konfrontasie tussen die twee magte nie. Pleks hiervan is die konflik op 'n ideologiese basis geveg. Beide NAVO en die Warskouverdrag het tot die uitbreiding van militêre magte gelei, en die integrasie daarvan by die onderskeie blokke.[12] Die Warskouverdrag se grootste militêre betrokkenheid was die Warskouverdrag se inval in Tsjeggo-Slowakye (met die deelname van al die Verdraglande, behalwe Roemenië en Albanië).[11] Die Verdrag het nie daarin geslaag om op te tree toe die Rewolusies van 1989 in Oos-Europa posgevat het nie. Dit het met die Solidarność-beweging in Pole begin en in Junie 1989 in sy doel geslaag.
Die Verdrag se ontbinding is op 25 Februarie 1991 op 'n vergadering van verdedigings- en ministers van buitelandse sake van die oorblywende lidlande in Hongarye bespreek. Op 1 Julie 1991 verklaar die Tsjeggo-Slowaakse president Václav Havel die formele ontbinding van die Warskouverdrag van Vriendskap, Samewerking, en Gemeenskaplike Bystand, wat in 1955 gestig is. Die Ontbinding van die Sowjetunie self het hierna in Desember 1991 gevolg.