Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Oostenryk |
Deelstaat | Wene |
Koördinate | 48°12′N 16°22′O / 48.200°N 16.367°O |
Stigting | 1ste eeu n.C. |
Stadstatus | 1212 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 414,87 vk km[1] |
Hoogte bo seevlak | 151–542 m |
Bevolking: | |
- Totaal (1 Januarie 2018) | 1 888 776[2] |
- Bevolkingsdigtheid | 4 552,7/vk km |
- Metropolitaanse gebied (2015) | 2 680 667[3] |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Klimaat | |
- Tipe | Oorgangsklimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 11,5 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | −1,4 / 19,9 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 600 mm |
Burgemeester | Michael Ludwig (SPÖ) |
Amptelike webwerf | wien.gv.at |
Wene (Duits: Wien [viːn] , Oostenryks: Wean) is die hoofstad van Oostenryk en vorm tegelykertyd een van die nege federale deelstate (Bundesland Wien) van dié land. Met 'n bevolking van ongeveer 1,89 milljoen is Wene die grootste stad en die kulturele en politieke spilpunt van die Alperepubliek. Dit is na Berlyn en nog voor Hamburg die naasgrootste Duitssprekende stad in Europa.
Die stad is geleë aan weerskante van die Donau, 40 km van die Oostenryks-Slowaakse grens en 50 km van die Slowaakse hoofstad Bratislava af. Wene, wat ondanks sy periferiese ligging in die ooste van Oostenryk tot dié land se belangrikste politieke, ekonomiese, wetenskaplike en kulturele sentrum ontwikkel het, word as enklawe – en as een van Oostenryk se nege deelstate – volledig omring deur die deelstaat Neder-Oostenryk. Dit is die setel van Oostenryk se seremoniële staatshoof, die federale president (Bundespräsident), die federale regering (Bundesregierung), verskeie administratiewe federale liggame en die regering van Wene wat 'n dubbele politieke funksie uitoefen as munisipale en deelstaatregering. So fungeer die Weense burgemeester gelyktydig as eerste minister van die deelstaat Wene (Landeshauptmann).
Wene is een van die mees bekende stede in Europa en neem 'n prominente plek in die geskiedenis van die Westerse beskawing, wêreldkultuur en -geskiedenis in. Die historiese stadskern is deur Unesco in 2001 as wêrelderfenisgebied gelys. Maar selfs Wene se tradisionele koffiehuiskultuur word deur Unesco as immateriële wêrelderfenis erken.
In sy lang geskiedenis, wat oor meer as 2000 jaar strek, het Wene feitlik alle kenmerkende historiese fases van 'n Europese metropool deurloop, van 'n beskeie begin as Keltiese en Romeinse nedersetting tot sy huidige status as wêreldstad. Die langste fase was dié van keiserlike hoofstad en regeringsetel, 'n funksie wat Wene tussen 1558 en 1918 vervul het – tot 1806 as setel van die Heilige Romeinse Ryk en vervolgens as hoofstad van die Keiserryk Oostenryk-Hongarye, 'n veelvolkestaat wat ná die woelinge van die Eerste Wêreldoorlog verbreek het. Wene se status is daarna afgeskaal tot dié van 'n kleiner, landgebonde en merendeels Duitssprekende Republiek Oostenryk.
Vanaf 1938 is Oostenryk sewe jaar lank by Adolf Hitler se Groot-Duitse Ryk ingesluit. Hitler, 'n boorling van Braunau am Inn in Oostenryk wat jare lank in Wene gewoon het, het besondere guns aan die stad betoon deur die inlywing van omliggende nedersettings. Hierdie Groß-Wien ("Groot Wene"), soos dit – analoog met Groß-Berlin – bekend gestaan het, is deur die geallieerde moondhede, wat Oostenryk in vier besettingsones verdeel het, weer ontbind en sy oorspronklike grense herstel. Anders as die res van die land is Wene in vier sones verdeel – die binnestad of Innere Stadt is tot internasionale sone verklaar. Met die ondertekening van die Oostenrykse Staatsverdrag in 1955 is die geallieerde besetting beëindig en Wene se status as hoofstad van 'n soewereine Republiek Oostenryk herstel.
Al is Wene deur die verwoestinge van die Tweede Wêreldoorlog geraak (meer as sestig persent van alle skade deur bomaanvalle en ander oorlogshandelinge in Oostenryk is in die hoofstad aangeteken), het 'n ambisieuse heropbouprogram verseker dat Wene in sy ou glorie kon herrys. Vandag is dit een van min groot Wes-Europese metropole waarvan die historiese middestad grotendeels bewaar gebly het – met al sy uitsigte wat oor die eeue deur generasies van stadsbeplanners en tuinargitekte ontwerp is. So word die stadskern se kimlyn steeds oorheers deur die torings van die Sint Stefanuskatedraal en het die stadskarakter in sy geheel – in vergelyking met die tydperk voor 1914 – nie merkbaar verander nie.
Terwyl 'n verskeidenheid moderne bouprojekte sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog verwesenlik is, het ook talle voorbeelde van Romeins-Duitse boukuns en argitektuur uit die Oostenryks-Hongaarse Keisertyd bewaar gebly. Leidende Jugendstil-kunstenaars en -boumeesters soos Klimt en Schiele het eweneens hul spore gelaat. Meer as eenhonderd museums (met eersterangse, maar soms ook baie eksentriese versamelings) en die veelsydige kulturele lewe, wat een van sy hoogtepunte gedurende die balseisoen in Januarie en Februarie bereik, en sy reputasie as die "Wêreldhoofstad van musiek",[4] wat deur beroemde klassieke komponiste soos Ludwig van Beethoven, Wolfgang Amadeus Mozart, Gustav Mahler, Johann Strauss en Arnold Schönberg gevestig is, maak van Wene 'n eersterangse internasionale toeristebestemming wat jaarliks meer as elf miljoen besoekers lok.
Wene was, vanweë sy ligging in 'n grensgebied tussen Wes- en Oos-Europa, steeds blootgestel aan 'n verskeidenheid kulturele invloede, maar ook 'n trekpleister vir honderdduisende migrante uit afgeleë Alpevalleie, die Boheemse platteland, die vlaktes van Galisië of die donker woude van Transsilvanië wat hier 'n heenkome probeer vind het.[5] Danksy ongekende groei het Wene se bevolking in 1910 die twee-miljoen-kerf oorskry. Later, gedurende en ná die Groot Oorlog, wat in 1914 uitgebreek het, het vlugtelinge en ander ontworteldes na die Donaumetropool gestroom.
Die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa (OVSE), die Verenigde Nasies se Industriële Ontwikkelingsorganisasie (UNIDO), die Organisasie van Petroleum Uitvoerende Lande (Opul), die Internasionale Atoomenergie Agentskap (IAEA), sowel as ander VN-kantore en verskeie internasionale instellings en maatskappye is gevestig in Wene.