Willy Brandt | |
Willy Brandt in 1980 | |
Bondskanselier van Duitsland
| |
Ampstermyn 22 Oktober 1969 – 7 Mei 1974 | |
Vise | Walter Scheel |
---|---|
President | Gustav Heinemann |
Voorafgegaan deur | Kurt Georg Kiesinger |
Opgevolg deur | Helmut Schmidt |
Leier van die Sosiaaldemokratiese Party
| |
Ampstermyn 16 Februarie 1964 – 14 Junie 1987 | |
Voorafgegaan deur | Erich Ollenhauer |
Opgevolg deur | Hans-Jochen Vogel |
Adjunkpremier van Duitsland
| |
Ampstermyn 1 Desember 1966 – 20 Oktober 1969 | |
Eerste minister | Kurt Georg Kiesinger |
Voorafgegaan deur | Hans-Christoph Seebohm |
Opgevolg deur | Walter Scheel |
Minister van Buitelandse Sake
| |
Ampstermyn 1 Desember 1966 – 20 Oktober 1969 | |
Eerste minister | Kurt Georg Kiesinger |
Voorafgegaan deur | Gerhard Schröder |
Opgevolg deur | Walter Scheel |
Burgemeester van Wes-Berlyn
| |
Ampstermyn 3 Oktober 1957 – 1 Desember 1966 | |
Voorafgegaan deur | Otto Suhr |
Opgevolg deur | Heinrich Albertz |
President van die Bundesrat
| |
Ampstermyn 1 November 1957 – 31 Oktober 1958 | |
Voorafgegaan deur | Kurt Sieveking |
Opgevolg deur | Wilhelm Kaisen |
President van die Berlynse Huis van Verteenwoordigers
| |
Ampstermyn 11 Januarie 1955 – 2 Oktober 1957 | |
Voorafgegaan deur | Otto Suhr |
Opgevolg deur | Kurt Landsberg |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | Herbert Ernst Karl Frahm 18 Desember 1913 Lübeck, Duitse Keiserryk |
Sterf | 8 Oktober 1992 (op 78) Unkel, Duitsland |
Politieke party | Sosiaaldemokratiese Party (1930–1931, 1948–1992) Sosialistiese Werkersparty van Duitsland (1931–1946) |
Eggenoot/-note | Carlotta Thorkildsen (1941–1948) Rut Hansen (1948–1980) Brigitte Seebacher (1983–1992) |
Kind(ers) | 4, insluitende Matthias |
Alma mater | Universiteit van Hamburg |
Religie | Lutheranisme |
Handtekening |
Willy Brandt (Duits: [ˈvɪliː ˈbʁant]; gebore as Herbert Ernst Karl Frahm; 18 Desember 1913 – 8 Oktober 1992) was 'n Duitse staatsman van Europese en wêreldformaat. As regeringsleier van 'n sosiaal-liberale koalisieregering, wat deur die Sosiaal-Demokratiese (SPD) en Vrye Demokratiese Party (FDP) gevorm is, het Brandt tussen 1969 en 1974 as vierde bondskanselier van die destydse Federale Republiek van Duitsland (Wes-Duitsland) gedien. Hy was die eerste sosiaal-demokratiese politikus sedert 1930 wat die pos van Duitse regeringsleier beklee het.
Voor sy verkiesing tot kanselier in 1969 het hy vanaf 1966 in die eerste Groot Koalisieregering tussen Sosiaal- en Christen-Demokrate, wat onder kanselier Kurt Georg Kiesinger (CDU) gevorm is, die ampte van Minister van Buitelandse Sake en Vise-kanselier beklee. Sy politieke loopbaan op federale regeringsvlak is voorafgegaan deur die amp van Regerende Burgemeester van Wes-Berlyn (vanaf 1957) in een van die moeilikste periodes van die stad se geskiedenis. Die Berlynse Muur is tydens sy ampstermyn opgerig. Op internasionale vlak het hy vir twee ampstermyne, tussen 1964 en 1967, en nog eens tussen 1976 en 1992, die amp van president van die Sosialistiese Internasionaal beklee.
Willy Brandt se historiese betekenis vir die na-oorlogse Duitse politiek en geskiedenis staan gelyk aan dié van Konrad Adenauer en Helmut Kohl. Terwyl Adenauer Duitse versoening met Wes-Europese lande bewerkstellig en die land vas veranker het in die ekonomiese en politieke integrasie van Wes-Europa en die trans-atlantiese militêre alliansie met die Verenigde State, het Brandt as politieke visioenêr brûe geslaan tussen Duitsland en Oos-Europa. Die ooreenkomste wat hy met Pole en die Sowjetunie gesluit het, het van Wes-Duitsland vir die eerste keer sedert 1949 'n erkende onderhandelaar vir beide die Weste en Ooste gemaak en die deur geopen vir die toetrede van beide Duitse state, die Federale Republiek van Duitsland en die Duitse Demokratiese Republiek (DDR), tot die Verenigde Nasies in September 1973.[1]
Brandt se nuwe optrede teenoor Oosbloklande, insluitende die DDR, was 'n radikale ommeswaai in die buitelandse beleid van Wes-Duitsland. Onder sy voorgangers het die land aanspraak daarop gemaak dat dit die enigste verteenwoordiger van Duitsland sou wees. Hierdie beleid, wat in die sogenaamde Hallstein-doktrine geformuleer is, is vanaf 1955 toegepas en was daarop gemik om die Duitse Demokratiese Republiek internasionaal te isoleer. Die aanknoop van diplomatieke betrekkinge met die DDR is as "onvriendelike optrede" teenoor die Federale Republiek beskou en het ekonomiese sanksies of die verbreking van diplomatieke betrekkinge tot gevolg gehad. So het die meeste Westerse lande eers vanaf 1973 amptelike diplomatieke betrekkinge met Oos-Berlyn begin aanknoop.
Vir sy beleid van versigtige toenadering en versoening teenoor Oos-Europese lande (die destydse Oosblok), waarna as Neue Ostpolitik verwys is, het hy in 1971 die Nobelprys vir Vrede ontvang. 'n Tweede belangrike steunpilaar van sy buitelandse beleid was die voortgesette politieke en ekonomiese integrasie van die destydse Wes-Duitsland in die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG) en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), soos begin deur sy voorgangers.
Hy vlug na Noorweë en dan Swede gedurende die Nazi-regime en werk as 'n linkervleueljoernalis. Hy het ook die naam Willy Brandt as skuilnaam gebruik om opsporing deur die Nazi-agente te vermy. Hy het die naam formeel aangeneem in 1948.
Brandt is oorspronklik beskou as een van die leiers van die regtervleuel van die SPD. Brandt was omstrede op beide die regtervleuel, vir sy Ostpolitik, en op die linkervleuel, vir sy ondersteuning van die Amerikaanse beleid, insluitend die Viëtnamoorlog, en regse outoritêre regimes. Die Brandt-verslag het 'n erkende maatstaf vir die beskrywing van die algemene Noord-Suid-verdeling in die wêreldekonomie en die politiek tussen 'n welvarende Noorde en 'n arm Suide geword. Brandt was ook bekend vir sy streng anti-kommunistiese beleid op plaaslike vlak wat sy hoogtepunt in 1972 in die sogenaamde Radikalenerlass gevind het – 'n verordening waarvolgens lede en aanhangers van ekstremistiese partye van alle poste in die staatsdiens uitgesluit is.
Brandt bedank as kanselier op 6 Mei 1974, nadat Günter Guillaume, een van sy naaste medewerkers, ontbloot is as 'n agent van die Staatssicherheit, die Oos-Duitse geheime diens. Hy behou sy amp as SPD-partyvoorsitter.[2]