'n Woestyn is 'n gebied wat minder as 250 mm reën per jaar ontvang. Dit het (gewoonlik, sien Antarktika) hoë temperature en daarom ook hoë vlakke van verdamping. Woestyne het min of yl plantegroei en beslaan 30% van die aarde se oppervlak. Woestyne kom hoofsaaklik tussen die trope en subtrope aan weerskante van die ewenaar voor. Woestyngrond straal snags met gemak hitte terug na die atmosfeer, wat temperatuuruiterstes veroorsaak (dit wil sê, snikheetwarm dae met gepaardgaande snerpendkoue nagte).
Tropiese woestyne soos die Saharawoestyn en die Namibwoestyn maak ongeveer een vyfde van die wêreld se woestyngebiede uit. Dit is die droogste plekke op aarde, met min plante en windverwaaide oppervlaktes, rotse en sand. Die semi-dor streke tussen woestyne en grasvelde word half- of semi-woestyne genoem. Dit het doringbome en struike en 'n lang, droë seisoen wat deur kort reënvalperiodes afgewissel word.
Woestynplante en -diere het by die ongenaakbare toestande wat in hierdie gebiede heers, aangepas. 'n Voorbeeld is sommige plante wat wasbedekte blare het (soos die kreosootbos) wat oormatige verdamping voorkom, terwyl ander (soos kaktusse) hul vlak wortels uitsprei om water op te vang en in hul sponserige weefsel berg. Die meeste woestyndiere ontsnap bedags aan die hitte deur in gate te skuil en snags aktief te wees.
Namate die woestynbevolking toegeneem en met groter kuddes langer op dieselfde plek gebly het (onder meer deur die grawe van waterputte), is die reeds wankelende ewewig tussen mens en omgewing verbreek. Die grond is deur oorbeweiding, oormatige houtkap of verkeerde besproeiingstegniek oorbelas, waardeur die oorspronklike plantegroei nie kon herstel nie.
Woestyne brei as gevolg hiervan in 'n onrusbarende tempo uit en die gevolge van langdurige droogtes is, vanweë onder meer 'n veranderde klimaatspatroon, nie net vir die plant- en dierewêreld rampspoedig nie, maar ook vir die mens. Klimatoloë definieer 'n woestyn as ʼn gebied waar die reënval jaarliks minder as 250 mm is en waar lang droogtetye voorkom.
Op grond van die temperatuur word daar tussen warm woestyne (Sahara, Australiese woestyne) met 'n gemiddelde jaartemperatuur van 25 °C (uiterstes: - 7 °C en + 40 °C) en koue woestyne (Gobi, Tibet) met 'n gemiddelde jaartemperatuur van 10 °C (uiterstes: - 40 °C en +40 °C) onderskei. Laasgenoemde lê meestal hoog. Die samestelling van die gebied en die verdeling van die reënval deur die jaar bepaal die aard van die plantegroei en die dierelewe. In teenstelling met wat dikwels veronderstel word, is die meeste woestyne nie heeltemal dor en dood nie.
In werklikheid is daar net in die sentrale deel van die Sahara en in die noordelikste woestyne van Chili, waar dit nooit reën nie, geen lewe moontlik nie. In die ander woestyngebiede op aarde is lewe vir 'n groot getal plante en diere moontlik, danksy verskillende aanpassings in bou, metabolisme en lewenswyse, ondanks die geringe hoeveelheid water en die meestal hoë temperature.