Xhosas | |
---|---|
Nelson Mandela • Thabo Mbeki • Desmond Tutu • Steve Biko | |
Totale bevolking: | 8 104 752 (2011-sensus) |
Belangrike bevolkings in: | 2001-skattings: Oos-Kaap: 5 092 152 |
Taal: | Xhosa (baie praat ook Zoeloe, Engels en/of Afrikaans) |
Geloofsoortuiging: | Christene, Tradisionele Afrika-godsdiens |
Verwante etniese groepe: | Nguni-stam, Basotho, Zoeloes, Khoisan |
Die Xhosas (Xhosa: amaXhosa [kǁʰɔ́ːsa] ) is 'n etniese groep van Suid-Afrika wat die Xhosataal praat en histories in die landelike Oos-Kaap[1] woon, maar nou ook elders in Suid-Afrika, veral in Gauteng en die Wes-Kaap.
Die Xhosas word verdeel in 'n aantal subgroepe met verwante, maar afsonderlike erfenisse. Die hoof subgroepe is die Bhaca, Bomvana, Hlubi, Mfengu, Mpondo, Mpondomise, Xesibe, en Thembu.[2] Daar word gemeen dat die naam "Xhosa" afkomstig is van 'n legendariese leier genaamd uXhosa. Daar is ook 'n teorie dat die woord xhosa afkomstig is van 'n woord in 'n Khoikhoi of San taal wat "kwaai" of "kwaad" beteken. Die Xhosas verwys na hulleself as amaXhosa en na hulle taal as isiXhosa.
Tans is daar ongeveer 8 miljoen Xhosas wat oor Suid-Afrika versprei is en Xhosa is Suid-Afrika se tweede mees algemene huistaal, naas Zoeloe, waaraan Xhosa nou verwant is. Voor 1994 is Xhosas soos ander swart bevolkingsgroepe in Suid-Afrika onder die Apartheidstelsel van hulle burgerskap ontneem en was hulle veronderstel om in die Transkei en Ciskei tuislande (nou beide deel van die Oos-Kaapprovinsie) selfbeskikking te bereik. Baie Xhosas woon vandag in Kaapstad, Oos-Londen en Port Elizabeth.
Teen 2003 het die meerderheid Xhosasprekers, ongeveer 5,3 miljoen, steeds in die Oos-Kaap gebly, gevolg deur die Wes-Kaap (ongeveer 1 miljoen), Gauteng (671 045), die Vrystaat (246 192), KwaZulu-Natal (219 826), Noordwes (214 461), Mpumalanga (46 553), die Noord-Kaap (51 228) en Limpopo (14 225).[3]