Argeologiese Monumentterrein van Xochicalco* | |
---|---|
Unesco-wêrelderfenisterrein | |
Piramide E en stele van die twee gliewe | |
Ligging van Xochicalco in Meksiko | |
Koördinate: 18°48′14″N 99°17′45″W / 18.80389°N 99.29583°W | |
Lande | Meksiko |
Tipe | Kultuur |
Kriteria | iii, iv |
Verwysings | 939 |
Streek† | Noord-Amerika |
Inskripsiegeskiedenis | |
Inskripsie | 1999 (23ste Sessie) |
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn. † Streek soos deur Unesco geklassifiseer. |
Xochicalco (Nahuatl: [ʃot͡ʃiˈkaɬko], , letterlik: "in die huis van die blomme") is 'n voor-Colombiaanse argeologiese terrein in die deelstaat Morelos sowat 122 km suidwes van die hoofstad Meksikostad in die suide van Meksiko. Tot vandag toe praat die inwoners van die nabygeleë dorpie Cuentepec Nahuatl.
Die argitektuur van Xochicalco toon verwantskappe met Teotihuacán, die Maja-gebied en die Matlatzinca-kultuur in die Toluca-vallei.[1] Die hoogtepunt van Xochicalco het gekom ná die val van Teotihuacán en volgens bewerings het Xochicalco 'n rol gespeel by die val van die Teotihuacán-ryk.
Die seremoniële hoofsentrum is op 'n kunsmatig afgeplatte heuwel geleë, met oorblyfsels van residensiële strukture, meestal nie-uitgegrawe, op die lang terrasse langs die hange.[2] Die plek is vir die eerste keer omstreeks 200 v.C. bewoon, maar het nie voor die Epiklassieke tydperk (700–900 n.C.) tot 'n stedelike sentrum ontwikkel nie. Byna al die bestaande argitektuur op die terrein is gebou in hierdie tydperk. Op sy hoogtepunt het die stad vermoedelik 'n bevolking van sowat 20 000 gehad, waarvan baie van hulle in produserende handwerk en langafstand-handel betrokke was.[3]
In die laat 16de eeu is deur Bernardino de Sahagún vir die eerste keer ná die ruïnes van Xochicalco verwys en in die laat 17de eeu het die universaalgeleerde José Antonio Alzate y Ramírez 'n beskrywing uit eie navorsings gepubliseer. In 1810 het Alexander von Humboldt illustrasies en 'n beskrywing van Xochicalco gepubliseer. Ook die Meksikaanse keiser Maksimiliaan I het die ruïnes tydens sy heerskap (1864–1867) besoek.
Die Argeologiese Monumentterrein van Xochicalco is in 1999 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys. Op 30 Maart 2015 is die argeologiese terrein by die Internasionale Register van Kulturele Eiendom onder spesiale beskerming van die Haagse Konvensie oor die Beskerming van Kulturele Eiendom tydens Gewapende Konflikte gelys.[4]