Last.fm is 'n internetradio- en musiek-gemeenskapswebwerf wat in die Verenigde Koninkryk gevestig is en in 2002 gestig is. Dit is die wêreld se grootste sosiale musiekplatform met meer as 21 miljoen aktiewe gebruikers in meer as 200 lande. CBS Interactive het Last.fm op 30 Mei 2007 vir ₤140 miljoen gekoop — die grootste Web 2.0-transaksie wat Europa tot nog toe beleef het. Sedert CBS se oorname van Last.fm was daar bespiegelinge dat die gratis webwerf in 'n betaalwebwerf sou verander. In April 2009 het Last.fm aangekondig dat dit alle gratis radiodienste na lande buite die VSA, VK en Duitsland sal staak, en dat gebruikers buite daardie lande VS$3 sal moet betaal om die radiodiens te benut. Last.fm stel 'n gedetaileerde profiel saam van elke gebruiker se musieksmaak deur rekord te hou van al die liedjies waarna die gebruiker op Last.fm se internetradio of op sy eie rekenaar/iPod luister. Hierdie musiekaanbevelingstelsel word Audioscrobbler genoem. Hierdie inligting word na Last.fm se databasis gestuur (of "gescrobble") deur middel van Last.fm se program wat die inligting vanaf die inprop in die musiekprogram na die webtuiste voer. Hierdie data word dan op 'n gebruiker se persoonlike webbladsy geplaas in die vorm van statistieke en ranglyste. Die werf bied verskeie sosiale netwerknutsgoed wat persone toelaat om liedjies aan ander aan te beveel en om kunstenaars soortgelyk aan die gebruiker se smaak aan die gebruiker bekend te maak. Gebruikers kan ook hul eie radiostasies en afspeellyste maak bestaande uit enige van die snitte wat in Last.fm se musiekbiblioteek is. Gebruikers kan na indiwiduele snitte op versoek luister indien die kopiereghouer dit regstreeks-afspeelbaar of aflaaibaar gestel het, die gebruiker binne die VSA, VK of Duitsland is, of die gebruiker in 'n ander land is en 'n subskripsie van $3 betaal. Registrasie word benodig om 'n persoonlike profiel te bekom; radiostasies kan egter slegs beluister word sodra die gebruiker $3 per maand betaal of in die VSA, VK of Duitsland woon.
Developed by StudentB