Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
'n Warmlugenjin is 'n suierenjin waarby die warmte buite die silinder opgewek word. Hoewel ernstige pogings aangewend word om alternatiewe te ontwikkel, is die binnebrandenjin steeds die beste opsie vir gebruik in moderne motors. Die warmlugenjin is net soos die Otto-, die diesel- en die wankelenjin 'n suierenjin waarmee hitte-energie in meganiese energie omgesit word. Die verskil tussen 'n warmlugenjin en die ander enjins lê egter daarin dat die gas wat tydens die werkslag uitsit, buite die silinder verhit word.
George Caley (1773 - 1857) het die eerste warmlugenjin gebou. In sy enjin is die lug na die silinder gevoer nadat dit in 'n oond verhit is. Vir elke werkslag is vars gas gebruik. Later is die ontwerp verander sodat die gas in 'n geslote kring tussen die enjin en die verhitter gesirkuleer het. Geslotekring-warmlugenjins is later volgens twee verskillende beginsels deur Robert Stirling (1790 - 1878) en John Ericsson (1803-1889) gebou. Hoewel die enjins nuttig gebruik is (byvoorbeeld in 1853 in 'n Amerikaanse oorlogskip), is dit heeltemal deur stoomenjins verdring. In 1938 het die maatskappy Philips egter weer die ontwikkeling van onder meer die Stirlingenjin voortgesit en heelwat welslae daarmee behaal.