Hetities (𒌷𒉌𒅆𒇷, d.i. niščili, "die taal van Neša", of nešumnili, d.i. "die taal van die mense van Neša"), ook as Nesities (Nešiet) bekend, is die uitgestorwe Indo-Europese taal van die Hetiete, 'n volk van bronstydse Anatolië. Hulle het hul Ryk rondom die sentrum van Hattusa gevestig, en benewens in dele van die noordelike Levant en Bo-Mesopotamië.[1] Die taal wat nou reeds lank uitgestorwe is, word deur Hetitiese wigskrif getuig, in verslae uit die 17de[2] (Anitta-teks) tot die 13de eeue v.C., met geïsoleerde Hetitiese leenwoorde en talle persoonsname wat van so vroeg af as die 20ste eeu v.C. in Akkadiese (d.i. Ou Assiriese) konteks opduik, en derhalwe neerkom op die vroegste getuienis van die gebruik van Indo-Europese tale.
Teen die Laat Bronstyd het Hetities teen sy naaste taalverwant Luwies begin veld verloor. Dit wil voorkom of Luwies teen die 13de eeu v.C. die mees algemeen gesproke taal in die Hetitiese hoofstad Hattusa was.[3] Ná die val van die Hetitiese Nuwe Koninkryk tydens die meer wydverspreide Laatbronstydse ineenstorting, het Luwies in die Vroeë Ystertyd na vore getree as die hooftaal van die sogenaamde Siro-Hetitiese stadstate van suidwestelike Anatolië en noordelike Sirië.