Plato | |
Beeld van 'n filosoof in Delphi. Daar word veronderstel dat dit 'n afbeelding van Plato of Plutarch is.
| |
Gebore | 428/427 of 424/423 v.C. Athene |
---|---|
Oorlede | 348/347 v.C. (op ca. 80) Athene |
Nasionaliteit | Antieke Griekeland |
Vakgebied | Retoriek, idealisme, kuns, literatuur, epistemologie, geregtigheid, deugsaamheid, politiek, onderwys, familie, militarisme |
Beïnvloed deur | Sokrates, Homeros, Hesiodos, Aristophanes, Aesopus, Protagoras, Parmenides, Pythagoras, Herakleitos, Orphisme |
Invloed op | Die meeste van die Westerse filosowe wat na hom werk het |
Plato was 'n Griekse wysgeer (filosoof) wat van 427 v.C. tot 347 v.C. in die Griekse stadstaat Athene geleef het. Met sy ideëleer is hy die oervader van die filosofiese idealisme.
Plato se leermeester was Sokrates. Ná Sokrates se dood het Plato na Egipte en Italië gegaan en daar gestudeer saam met studente van Pythagoras.
Plato was nie so lief vir mense as wat sy leermeester Sokrates was nie, en een van die voorvereistes vir 'n filosofie-kursus by hom was dat die student meetkunde moes ken. Dit was heel waarskynlik as gevolg van Sokrates se vervolging oor sy filosofiese lewenswyse. Plato was nie bereid om ook so vervolg te word nie.
Die meeste van Plato se werke is geskryf in die vorm van Sokratiese dialoë, waarin 'n deels fiktiewe Sokrates met iemand 'n gesprek voer oor die een of ander filosofiese onderwerp.
Plato se vroegste werke het Sokrates se gedagtes verwoord. Van Sokrates het óf geen werke behoue gebly nie óf hy het nooit self iets geskryf nie, maar Plato het baie van sy gesprekke min of meer akkuraat opgeteken. Die eerste werke, wat Sokrates se gedagtes verwoord, is onder andere Eutufro, Apologia en Krito.
In sy latere werk het Plato begin om sy eie gedagtes op skrif te stel, en sy werk het meer begin handel oor dieper filosofiese vrae, soos die onsterflikheid van die menslike siel. Hierin het hy begin wegbeweeg van Sokrates se geliefkoosde onderwerpe, naamlik die vrae van Reg en Verkeerd, die aard van wysheid ens.
Plato is ook noemenswaardig as 'n wiskundige, 'n veld waarin sy bydrae dieselfde abstraktheid volg wat sy filosofie kenmerk – sy wiskunde kan gesien word as 'n uitbreiding van sy metafisika. Bertrand Russell (in sy werk met Alfred North Whitehead) noem Plato een van die vorste vir die getalteorie.
Plato se eie student was Aristoteles, en saam met Sokrates word hierdie drie wysgere die vaders van die moderne Westerse wysbegeerte genoem.